Geskryf deur: Milan Potgieter 3 min

Leierskap begin by jou karakter, nie jou titel nie

Wat het Nelson Mandela, Moeder Theresa en Danie Craven in gemeen?

Behalwe dat hulle ’n massiewe merk in die geskiedenisboeke gemaak het, was hulle goeie leiers. Of jy nou saamstem met hul idees of nie, een ding is seker: elkeen van hulle was ’n leier met ’n sterk karakter.

Wat is ’n leier?
John Maxwell, die bekende leierskapkenner, sê dit die beste: “Leierskap is invloed – niks meer en niks minder nie.”

Alle leiers het basies twee dinge in gemeen: Hulle is êrens heen op pad én hulle kan mense oorreed om saam met hulle te gaan.

’n Ware leier is nie noodwendig iemand wat altyd voor loop en die hardste skree nie. Enigiemand wat deur hul gedrag en waardes ’n voorbeeld is vir ander, is reeds, sonder enige titel, ’n leier.

Die kern van die saak: Karakter
Karakter is wie jy is en wat jy doen wanneer niemand kyk nie. Dit gaan oor eerlikheid, harde werk en om ander met respek te behandel, sonder om ’n klop op die skouer te verwag.

My oupa het altyd gesê: “As jy rugbykaptein wil wees, moet jy al 15 posisies kan speel – insluitend die rol van reserwe én die ou wat die water aandra.”

Jy is reeds ’n leier!
Jy hoef nie te wag vir ʼn leierskapstitel om ’n verskil te maak nie.
Leierskap is nie ’n posisie nie, dis ’n keuse wat jy elke oggend maak wanneer jy opstaan.

Wees van vandag af ’n leier met karakter! 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.