Vir die eerste keer in Laerskool Randhart se geskiedenis is nie net ’n rugby- óf netbalspan na die ABSA Wildeklawer-toernooi genooi nie, maar albei ons eerste rugby- en netbalspan!
Die laerskole se Wildeklawer-toernooi vind elke jaar op Laerskool Newton se skoolgronde in Kimberley plaas. Dit het hierdie jaar van 23 tot 26 April plaasgevind. Daar was ‘n totaal van 25 skole. Albei spanne het uitstekend presteer en hulself baie goed van hul taak gekwyt. Die netbalwedstryd teen Eikestad was ‘n naelbytoorwinning (Eikestad vs. Randhart: 18-19) en het verseker dat Randhart na die semifinaal deurdring.
Dit was reeds met hierdie wedstryd duidelik dat die Ranties ‘n hele paar vriende bygekry het toe verskeie ander spanne hulle ondersteuning agter die Rantiespan gegooi het.
Tydens die semifinaal het ons die Kaapse Laerskool, Gene Louw, 19-26 getroef en deurgedring na die finaal. Hoe wonderlik is dit nie om tydens jou skool se debuut by die Wildeklawer-toernooi op die finale dag in die finaal te speel nie? Weereens was daar baie belangstelling en was die ondersteuners goed luidrugtig met kort motiveringsliedjies of ‘n kreet hier en daar!
Weereens het die beide die spanne spoggerige netbal gespeel, maar op die ou end van die dag het Constantiapark (21-19) met die goud weggestap.
Ons Ranties se eerste netbalspan het algeheel tweede geëindig! ‘n Merkwaardige prestasie in sekerlik een van die uitdagendste toernooie in die land. Geluk, meisies!
Op die rugbyveld, net ‘n klipgooi van die netbalbane af, het ons eerste rugbyspan die openingswedstryd van die week gespeel om die toernooi vir die jaar af te skop. ‘n Trotse oomblik was dit beslis toe die Ranties uitgedraf kom om teen Sunridge te speel en die wedstryd 19-12 wen.
Op dag twee kon hul kragte teen Laerskool Gene Louw meet en het weereens as oorwinnaars uit die stryd getree.
Op die laaste dag van hierdie hoë intensiteit-toernooi, het die Ranties in die voor-hoofwedstryd gespeel, maar kon ongelukkig nie daarin slaag om Outeniqua op hulle neuse te laat kyk nie. Nietemin het ons eerste span algeheel vierde geëindig en het beslis die aandag van baie rugbyskole getrek!
Vriend en vyand was aangenaam verras deur Randhart se eerste rugby- en netbalspan. Die Ranties het beslis hul merk by die gesogte Wildeklawer-toernooi gemaak.
Geluk aan albei spanne, hul afrigters en dankie vir al die ouers se ondersteuning!
Gelukkig was daar ook tyd vir ontspanning en het die seuns en dogters die bekende Kimberley se gat besoek.
Tans is die ligawedstryde al goed op dreef en die Ranties speel steeds ‘n barshou!
Sterkte vir die res van die seisoen – “Go Ranties!”
Hier volg die uitslae van die toernooi:
Netbal:
Randhart 30-14 Rustenburg
Randhart 29-11 Menlopark
Randhart 32-14 Newton
Randhart 27-4 Bastion
Randhart 25-21 Constantiapark
Randhart 26-16 Oranje Meisies
Randhart 18-17 Eikestad
Randhart 26-19 Gene Louw
Randhart 19-21 Constantiapark
Rugby:
Randhart 21-7 Sunridge
Randhart 26-19 Gene Louw
Randhart 5-26 Outeniqua
Jayme Martin het ‘n paar vrae aan die eerste span se kapteine, Suené Pretorius en Tatum Kers, gestel:
• Hoe het julle die toer ervaar?
Suené: Dit was baie lekker; ek het dit vreeslik geniet!
Tatum: Dit was baie lekker. Ons het dit baie geniet en die kans om daar te kon wees, was net ongelooflik.
• Wat het jy geleer?
Suené: Ek het geleer om nie te huil as jy verloor nie, want dis nie so erg nie en jy speel weer teen hulle, so dan kyk ek eerder na die volgende wedstryde wat vir my wag.
Tatum: Ek het geleer om nie grootkop te kry nie, al is jou span hóé goed. Ek het ook geleer dat gees ‘n belangrike rol speel.
• Wat was vir jou die hoogtepunt van die toernooi?
Suené: Om tyd saam met my netbalspan deur te bring en spangees te bou.
Tatum: Toe ons met die tweede wedstryd fenomenaal gespeel het en geleer het om nederig te bly.
Ons is bitter trots op hierdie spanne. Dankie dat julle ons naam hoog gehou het!
Ranties - Ons glo!