Geskryf deur: Marichke Pucjlowski 1 min

‘n Wilde avontuur – Ons laaste “Funky-day” uit op safari

Op 7 Junie het die graad 7’s van 2024 ‘n safari aangepak soos geen ander nie.

Dit was nie ‘n gewone wildrit soos wat ons al deur die wildtuin ervaar het nie, maar eerder ‘n reis deur die gange van Randhart. Op dié dag mag dit dalk deur die onderwysers as ‘n oerwoud van graad 7’s beskryf word.

Met hoede, sonbrille, verkykers en selfs luiperdprint-rompies en oorbelle, het ons soos ‘n seer oog uitgestaan, maklik vir onderwysers om ons te “spot” tussen die blou en rooi see van ons medeskoliere. Die dag was heel moontlik ‘n aanhoudende soektog deur elke onderwyser na ‘n skaars en eksotiese spesie: ‘n normale, op sy plek tiener in plaas van die ontembare graad 7’s wat hulle tienertog hierdie jaar met mening aangepak het.

By Randhart is “Funky-day” ‘n dag van pret en plesier. Een keer ‘n jaar kry elke graad die voorreg om met bykomstighede ‘n tema uit te beeld. Ek is oortuig Randhart het die instelling begin om ons kinders, tussen al die akademiese- en sportdruk, te herinner om net kind te wees. Dis vir ons lekker dat ons skool tyd vir pret en plesier maak.

Die graad 7’s het omtrent soos wilde diere wat losgelaat is hulleself geniet met snaakse geluide en hoë energievlakke. Teen die middag se kant dink ek elke onderwyser wou die berge in hol.

Soos die safari tot ‘n einde gekom het teen huis-toe-gaan-tyd, het elke graad 7-leerder die skoolgronde verlaat met herinneringe van baie lag, avontuur en die besef dat ons onderwysers beslis die beste safari-gidse is wat enige kind kan hê.

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.