Gister was Vrouedag. 'n Dag wat ons almal moet erken. Dit gebeur sedert 1911 en word nou elke jaar as ‘n vakansiedag erken.
Die dag is gestig toe vroue dieselfde regte geëis het as wat mans jare voor dit al gehad het. Nasionale Vrouedag bring vroue regoor die land saam om hulle regte uit te spreek; om geslagsgelykheid vir alle vroue te kry deur om geleenthede, saamtrekke en konferensies op die dag te hou.
Maar wat beteken dit om ‘n vrou te wees?
Ek persoonlik ken ‘n klomp baie sterk vrouens en het besluit om vir hulle te gaan vra wat hulle dink dit beteken om ‘n vrou te wees:
Juffrou Erasmus sê dat om vrou te wees beteken om te aanvaar dat God jou volgens sy beeld geskape het en dat ons ‘n rol in die samelewing het om te vervul.
Juffrou Connoway vertel dat om vrou te wees beteken om altyd versorg te wees deur om moeite te doen met jou voorkoms en om ‘n dame te wees.
Juffrou Botha sê dat om vrou te wees beteken om trots te wees op die mens wat God geskape het en ‘n voorbeeld te wees vir ander vroue.
Dit is duidelik dat ons juffrouens vrouwees verstaan!
Ek het gehoor dat Randhart se graad 6-redenaars se rooi span bietjie navorsing gaan doen het oor vrouens en hulle emosies. Ek het hulle gaan vra of vrouens meer emosioneel as mans is. Hulle navorsing het gewys dat mans en vrouens dieselfde is wanneer dit kom met emosies! Die verskil kom in by hoe vrouens en mans die emosies wys; vrouens en mans ervaar dieselfde emosies, maar vrouens wys dit meer as mans. So nee julle: vrouens het nie meer emosies as mans nie… hulle steek dit net nie so goed weg soos mans nie.
Deel van vrouwees is ons liefde vir sjokolade en ek was verbaas om op die internet te lees dat die rede hoekom vroue so baie van sjokolade hou, is omdat dit ons stresvlakke verminder. Geen wonder ek eet amper ‘n hele boks sjokolade op wanneer dit toetsreeks is nie. Sjokolade stel die chemiese hormoon met die naam Serotonien vry wat mens sommer BAIE beter laat voel en as mens goed voel dan is die stres sommer weg!
Daar was nog een vraag wat ek moes vra aan ons vroue onderwysers...
Is pienk regtig vrouens se gunstellingkleur?
En Die Antwoord was nee! Juffrou Connoway voel dat elke vrou se gunstelingkleur dalk mag verskil, maar pienk simboliseer liefde en dit is waarom alle vrouens gewoonlik van pienk hou.
Juffrou Erasmus sê dat daar ‘n konneksie tussen vroue en die kleur pienk is, omdat dit sag is.
Juffrou Botha voel dat vroue elkeen so uniek en anders op hul eie manier is dat pienk vir seker nie alle vrouens se gunstelingkleur is nie.
Daar het julle dit! Vrouens is uniek en moet gevier word vir hulle uniekheid en hulle baie belangrike plek in ons land.
Geniet julle vakansiedag, Ranties, maar moenie vergeet om die vrouens om jou te vier nie!