Geskryf deur: Ellené Anderson 4 min

Waarmee is Die Voortrekkers besig? 

“Die storie van Die Voortrekkers wat reeds vir langer as agt dekades geskryf word, is een van die Afrikaners se mooiste kultuurstories. Dit is ’n storie van deursettingsvermoë, van toewyding en opoffering.”

So staan daar geskryf op die webblad van Die Voortrekkers by www.voortrekkers.co.za waar julle gerus kan gaan inloer.

Vir die wat nie weet wie die Voortrekkers is nie…

Die Voortrekkers is ’n kultuurbeweging wat hulle lede, in besonder die jeug, toerus om as moderne Afrikaners, positiewe Burgers en konsekwente Christene hulle roeping deur diensbaarheid uit te leef.

Die jaar stap aan en ek het bietjie gaan inloer om te hoor waarmee hulle besig is en wat hulle als vir die res van die jaar beplan.

Die afgelope naweek het hulle reeds hulle Oosvaal-gebiedsaktiwiteit gehad. Dit is ’n dag waar hulle per graad spesialisasies doen en dan kentekens daarvoor verwerf.

Op 16 September gaan hulle oorslaap in ossewaens by die Voortrekkermonument. Net soos ons voorvaders gedoen het! Aandete word gemaak op die vuur en die volgende oggend word almal bederf met boerekoffie en beskuit. Dit klink na vet pret om te beleef hoe Die Voortrekkers in daardie tyd geleef het.

Vanaf 29 September – 3 Oktober is dit tyd vir die Venterskroon-gebiedskamp. Sommerso in die skoolvakansie! Hier kry die Voortrekkers weer die geleentheid om verskeie spesialisasies in graadverband te kan doen. Van die spesialisasies sluit in plantekennis, weerkennis, touwerk, spoorsny en sterrekunde. Dit klink sommer baie interessant!

Vanaf 20 – 22 Oktober is dit tyd vir die Kommandokamp asook hulle prysuitdeling op ’n plaas hier by Meyerton. Verlede jaar was die Kommandokamp ’n groot sukses met aktiwiteite soos kettieskiet, ‘n hindernisbaan en toutrek. Hulle het selfs die geleentheid gekry om op ’n wildsrit te kon gaan. By hierdie jaar se kamp gaan daar weer heerlik gekamp en gespeel word.

Die Voortrekkers kom ook elke Vrydag bymekaar vir hulle weeklikse byeenkoms.

Sjoe! Dit klink of hulle ’n besige skedule het tot die jaar afsluit. Dit lyk ook sommer baie lekker om ’n Voortrekker te wees! Vir die van julle wat nog nie betrokke is nie en wat vreeslik graag by Die Voortrekkers betrokke wil raak, kan gerus vir tannie Erna by 072 371 7031 kontak.

Die Voortrekkers se storie word vandag steeds geskryf. So, word deel van die storie en help skryf aan die volgende hoofstuk van hulle verhaal. 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.