Laerskool Randhart se jaarlikse Valentynsokkie het op Vrydagaand 9 Februarie 2024 plaasgevind. Vir weke al het romantiese hartjies en danspassievolle kinders sonder veel geduld na die spesiale aand laat uitgesien. Nuwe rokkies, hemde en ‘spif’ skoene moes voor die spesiale dag aangekoop word om seker te maak dat die seuns en dogters behoorlik opgetof kon wees.
Die opwinding het in die lug gehang soos die kinders entoesiasties by die skoolterrein ingestroom het. Met temaversierings van rooi en wit, sowel as flitsende en draaiende ligte, is die skoolsaal tot 'n romantiese droom omgetower. Vir die kinders wat ‘n ekstra geldjie saamgebring het, was daar geleentheid gewees om smullekker eetgoed en Valentyngeskenkies op die skoolterrein te koop. ‘n Paar dapperes het selfs rooi rosies aan daai spesiale iemand gegee. Daar was selfs 'n fotoboks gewees om al die herinneringe vas te vang.
'n DJ het die gewildste treffers gespeel. As jy kans gehad het om jou kop in die saal in te steek, sou jy gesien het hoe die kinders die dans geniet het. Van hop, skud en sommer lekker laf wees, was daar orals te sien. Party het selfs met draaie en swaaie tussen die ander dansers deur gelangarm. O ja, daar was ook ‘n treintjie van kinders gewees wat soos ‘n reuse wurm deur die saal gewikkel het.
Ek het by so ‘n paar van my klasmaats gehoor hoe hulle oor die aand gevoel het. Hulle het die volgende kwytgeraak: "...ek het lekker met die meisies gedans...”, “...die mini-doughnuts was die beste...” en “... die lekkerste was om pret te hê met my maats...”
Ons waardeer die skool se ouers en personeel vir al hul harde werk en moeite wat vanjaar se Valentynsokkie so besonders gemaak het. Dit was 'n sokkie om te onthou!