Kuns kommunikeer informasie, vorm deel van ons alledaagse lewe en is iets wat ons kan geniet vir die mooiheid wat dit bied. Lyn, vorm, tekstuur en kleur wat goed saam gebruik word, gee die kunstenaar se emosie weer.
Op 20 September was dit die Ranties se beurt om hul lywe Picasso en Van Gogh te hou vir hierdie jaar se Ranties-Kunsuitstalling.
Leerders se pragkuns asook volwasse kunstenaars se werk was te koop aangebied.
Met die intrapslag is ons meegevoer deur die klanke van ‘n trekklavier wat die atmosfeer van ‘n regte kunsgallery geskep het. Die lekkerste peuselhappies was aangebied en het gesorg vir ‘n onvergeetlike ervaring.
Die mooiste werk is vertoon en elke Rantie wat hierdie jaar deelgeneem het, kan bitter trots wees.