Geskryf deur: Ava Allen 3 min

Top "tips" vir top 10

Foto’s op FB, al die mammas se WhatsApp-statusse en dan nog ‘n ete in skooltyd? Ja julle, dit is alles wat saam met die top tien kom en natuurlik daardie balkie wat jy die hele kwartaal by die skool mee mag rondloop. Dit het my laat dink: Hoe kry mens een van hierdie balkies en wat moet jy doen? Ek het bietjie gaan ondersoek instel en met heelwat van die top 10-kinders en onderwysers gaan gesels en hier is die top 5 “tips” volgens hulle:

1. Geen sosiale lewe nie: Wil jy gaan fliek of oorslaap by jou maatjie? NEE! Vergeet daarvan. Want terwyl almal op die rugbyveld fliek, moet jy opsom of ekstra wiskundesomme deurwerk. ‘n Uur wat jy met jou vriende speel, is ‘n uur wat jy kon leer. Gevolgtrekking: Meer tyd vir leer; minder tyd vir sosiale lewe.

2. Sny op die slaap: 7 tot 8 ure se slaap is meer as genoeg. In die 9 tot 11 ure wat jy geslaap het, kon jy al 3 Afrikaanse vraestelle deurgewerk het en dalk so ‘n bietjie deur die woordeboek gelees het. Gevolgtrekking: Slaap is vir die voëls.

3. Moet nooit skool mis nie: Jy voel dalk nie lekker nie of benodig ‘n af dag… moenie eers daaraan dink nie. Druk ‘n sneusie in jou neus as hy aanhou loop en suig ‘n keelseerlekkertjie, maar MOENIE by die huis bly nie! Top 10-leerders hang almal aan die lippe van ons onderwysers en mis nie een ding wat hulle sê of een wenk wat ons onderwysers sal laat val oor wat in die toets gevra kan word nie. Gevolgtrekking: Sinus, brongitus of loopmaag mag nie jou stop om te hoor wat Juffrou of Meneer sê nie.

4. Die regte leermetodes is baie belangrik: Jy kan nie net op jou bed lê en deur jou werk lees nie. Sit regop, maak notas, teken prentjies, maak stories op en gebruik so baie kleur dat jou notas soos ‘n “unicorn”, wat daarop opgegooi het, lyk maar wees in die leeroomblik. Baie, baie min kinders kan net lees en alles onthou. Maak dit maklik vir daardie brein van jou - gee hom kleur, gee hom snaakse rympies en hy gaan jou nie teleurstel nie. Gevolgtrekking: Gee jou brein ‘n bietjie liefde!

5. Lees, lees, lees! Wanneer jy ‘n oomblik “af” het, lees ‘n boek. Die grootste probleem volgens baie onderwysers in Randhart is dat die kinders nie die vrae in die toetse lees of verstaan nie. Die kinders ken eintlik die antwoorde, maar omdat hulle nie baie lees nie is daar woorde wat hulle nie verstaan nie en kry hulle daardie antwoorde verkeerd. Gevolgtrekking: Maak Jaco Jacobs jou nuwe beste vriend en die mediasentrum jou nuwe uithangplek!
Daar het jy dit! Los die sosiale lewe, moenie jou lewe omslaap nie, kom skool toe, wees lief vir jou brein en lees!  

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.