Geskryf deur: Wernich van Niekerk 2 min

Toetse hoef nie rillers te wees nie

Die toetsseisoen het aangebreek en dit kan vir baie leerders ‘n stresvolle tyd wees. Moenie bekommerd wees nie – toetse is daar om jou te help groei en jou kennis te toets. Toetse voel soms soos ’n gruwelfliek – die soort wat jou laat sidder en wonder of jy ooit gaan oorleef! Die waarheid is, dit hoef glad nie so te wees nie. Met ’n paar slim wenke kan jy jou toetse baasraak sonder om stres op te bou.

Eerstens, moenie tot die laaste oomblik wag om te leer nie. Dit is soos om vir ’n hardloopwedren net die aand voor die groot dag te oefen – dit gaan nie goed eindig nie! Begin vroeg en leer elke dag ’n bietjie. Klein stukkies op ’n slag is baie makliker om te onthou as om alles in een dag in te prop.

Maak jou leerwerk interessant. Gebruik kleure, prente en opsommings. As jy dinge op ’n prettige manier leer, gaan jy dit makliker onthou. Oefenvraestelle help ook baie, want dit gee vir jou ’n idee van hoe die vrae in die toets gaan lyk.

Kry genoeg slaap! ’n Moeë brein gaan sukkel om inligting te onthou. Eet ook gesond – sjokolade mag lekker wees, maar jou brein het beter kos nodig om op sy beste te werk.

Op die dag van die toets, moenie paniekerig raak nie. As jy voorbereid is, gaan dit goed gaan! Lees elke vraag mooi deur en bly kalm. As jy nie dadelik ’n antwoord weet nie, beweeg aan en kom later terug daarna.

Onthou, ’n toets is nie daar om jou te laat misluk nie – dit is net om te kyk hoeveel jy geleer het. As jy hard gewerk het, hoef jy nie bang te wees nie. So hou op stres en wys vir die toets wie die baas is! 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.