Geskryf deur: Ava Allen 3 min leesstuk

Terug hok toe

Net so vinnig soos ESKOM die krag afsit tydens beurtkrag, is ons weer terug in die skoolbanke. Die reuk van nuwe skoolklere hang in die gange met trane en ‘n gegiggel oral te hore. Dit is offisieel die eerste dag voor die aftel na die laaste dag van skool.

Daar is baie gemengde gevoelens oor om terug te wees by die skool. Sommige van ons het by die skool aangehardloop gekom om met ons lang verlore vriende herenig te word en ander het aan hulle mammas se rokke vasgeklou en gewonder hoe hulle deur ‘n dag sonder haar middagetebroodjies en 500 peuselhappies gaan kom.

Die graad 7’s maak reg vir hulle laaste jaar saam met ons en ons verwelkom ons nuwe graad 1’tjies. Sommige van ons het oor die skoolvakansie langer geword en sommiges so ‘n klein bietjie ronder (ek is seker die atletiekseisoen sal ons almal weer regruk).

Vir baie van ons ontmoet ons vir die eerste keer ons nuwe onderwyser wat vir ons hierdie jaar gaan skoolgee, teen pouse het ons al ons nuwe onderwysers opgesom en weet ons waar ons met ‘n grappie gaan wegkom en waar ons dalk onsself dood gaan werk.

Ons almal was nog besig om aan te pas met die eerste skooldag se emosies, toe ons sommer in ons splinternuwe skooluniform moes gaan uitdunne hardloop. Daar aangekom, het ons met ‘n groot skok agtergekom dat van ons leerders die hele vakansie geoefen het terwyl ander meer gefokus het om 3D-sandkastele te bou, roomys te eet en om TV-speletjies te bemeester.

Die algemene gevoel by Randhart is een van groot opgewondenheid. As jy laas jaar in graad 1 was, is jy nou opgewonde om gesien te word as ‘n groot kind. As jy verlede jaar in graad 3 was, is jy nou reg om te begin wissel, baie nuwe onderwysers te ontmoet en dalk ook so ‘n klein bietjie senuweeagtig vir jou eerste toetsreeks. Onthou asseblief om daardie tablet van jou te laai!

As jy laas jaar in graad 6 was, is jy nou op die laaste deel van jou laerskoolloopbaan en dalk ‘n bietjie sentimenteel oor jou laaste keer wat jy in die laerskoolkoor sal sing, jou laaste keer wat jy vir Randhart atletiek sal hardloop of jou laaste keer wat jy netbal, hokkie, rugby of krieket in die rooi-en-blou-drag sal deelneem.

Met blink oë en blink nuwe skoene, kyk ons almal in die toekoms in na wat die jaar vir ons inhou en dit is een van hoop, opgewondenheid en miskien ‘n bietjie van ‘n lawwigheid oor die lekker jaar wat ons Randhartfamilie saam gaan stap.  

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.