Geskryf deur: Amori van Vuuren 1 min

Tentedorp 2023 – ‘n onvergeetlike naweek!

Die naweek van 8 September was meeste van die Ranties en hul gesinne op pad na Mbizi, Bela-Bela, vir die tentedorp. Kinders was amper soos die gesegde sê - gesien maar nie gehoor nie. Hulle het die heeldag geswem, hul bene lam fiets gery en konstant aan al die lekkernye geknibbel.

Daar was putt-putt en die beste boeresportkompetisie. Ons het water in emmers oor ons koppe aangegee wat almal sopnat gelaat het, kouse uitgetrek terwyl ons ‘n bak water bo ons balanseer en die beste een nog was die sakresies! Die Saterdag het met 'n 5 km pretdraf afgeskop en halfpad het die pappas vir 'n afkoel met die watertenkspuit gesorg. Elke aand was geniet met ‘n lekker gesellige braai en kampvure vir nuwe maats maak en stories uitruil.

Die weer was enige kampeerder se droom: Lekker sonnig en baie warm! Dit was duidelik dat koue water geen kind stop nie! Ons moet Laerskool Randhart se Ondersteunersklub bedank vir hul harde werk, want sonder hulle sou die naweek nie plaasgevind het nie. Dit was voorwaar 'n groot sukses en 'n naweek waaroor nog lank gelag en oor gesels gaan word. Ons sien sommer al klaar uit na volgende jaar en hoop nóg meer Rantie-gesinne gaan kom deel in die pret!  

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.