Terwyl ek sit en skryf, vra Oupa vir my: “Sussie, wat doen jy?”. Ek vertel hom van ‘n mooi rooikopjuffrou by die skool. Alhoewel sy lekker kwaai kan wees as jy aanjaag of jou huiswerk nie doen nie, het sy die mooiste hart wat vir haar medemens omgee. Haar leefwyse en dade getuig ongetwyfeld dat sy ‘n ware Christen is en stel altyd ook hierin ‘n mooi voorbeeld vir die Rantie-kinders.
Net daar doop Oupa vir juffrou Van As as Ranties se filantroop! Ek weet natuurlik nie wat hy sê nie en hy verduidelik: “‘n Filantroop word beskryf as ‘n weldoener wat sy of haar persoonlike tyd, geld of goedere aanwend om ander mense of behoeftiges te help. Onbaatsugtige dade, sonder om iets terug te verwag.”
Hier is onse rooikopfilantroop ywerig weer besig met ‘n gemeenskapsprojek: Tekkies wat brand!
Dit laat my dink aan Irene-Louise se Tekkies Brand-liedjie:
Maak jou veters vas, whoo-hoo
Daai splinternuwe Adidasse van jou gaan ons bietjie uit-toets
Kom hier
Ons gaan nie stop nie tot ons rook sien trek
Nee, nee die keer gaan ons nie dans nie! Ons gaan ons veters los maak en ons tekkies, wat ons ontgroei het, skenk.
Kom ek vertel julle ‘n bietjie meer waaroor dit gaan en hoe julle ook filantrope kan wees.
Saam met juffrou Van As en die Gemeenskapsraad maak ons ‘n beroep op elke Rantie om jou tekkies te bring wat te klein is. Versprei die nuus en vertel vir elke oupa, ouma, oom, tannie en vriende om die projek te ondersteun. Miskien is hulle tekkies nie te klein nie, maar hulle wil graag daai wat daar agter in die kas lê en nooit meer gedra word nie, ook skenk.
Hoekom nou juis tekkies? vra ek vir juffrou Van As.
Ek kry sommer ‘n groot knop in my keel toe sy my vertel dat dit vir die kaalvoethardlopers van die gemeenskap is. Aan die begin van die hardloopseisoen word dit uitgedeel aan minderbevoorregte kinders. Skaam besef ek hoe ongelooflik baie ek het om voor dankbaar te wees.
Juffrou Van As stem saam dat daar baie leerders in die Ranties is wat in die bevoorregte posisie is om met tekkies aan landloop deel te neem. Baie ander moet kaalvoet hardloop, omdat hulle nie dit kan bekostig nie. Haar hoop is dat terwyl elkeen sy bydrae van te klein tekkies bring, hulle ook empatie sal leer. Dis belangrik om die wat nie so bevoorreg is soos jy nie se omstandighede te kan verstaan, begrip daarvoor te hê en as jy in die posisie is om te help, dit te doen sonder dat jy ander daarvan vertel.
Hoe kan jy help?
Al die Rantie-leerders, bring julle tekkies wat te klein is skool toe en plaas dit in die houer in juffrou Van As se klaskamer. Onthou om vir jou familie en vriende te vra om ook die projek te ondersteun.
Wanneer skop die projek af?
Julle kan van 1 Junie af die tekkies bring. Die projek sal vir die hele derde kwartaal duur.
Mag elke Rantie daai te klein tekkies bring met empatie in hulle harte teenoor die wat dit nodig het en met dankbaarheid teenoor hulle ouers en die Here dat hulle wel in die posisie is om te kan gee.
Ons kyk uit na al die tekkies. Saam kan ons as Ranties dit makliker maak vir baie landloopatlete wat minder het as ons.
Rantie-groete,
Marichke Pucjlowski