Geskryf deur: Marichke Pucjlowski 5 min

Ranties by Super 12-landloop: 'n Dag van uithou en aanhou!

Die Ranties-span pak die Super 12-landloop-uitdaging aan.

Danksy die landlooporganiseerder, juffrou Steenkamp, en ons afrigters, juffrou Feuth, Muller, Barnard, Mulder en mnr. de Ru, het die Rantie-landloopspan die Super 12-wedloop fiks en gereed aangepak met die leuse: "Hardloop wanneer jy kan, loop as jy nie anders kan nie, kruip as jy moet – MAAR, moet net nooit opgee nie!"

Op 'n vreeslike koue Saterdagoggend, 26 Augustus 2023, het die Rantie-atlete, saam met hulle onderwysers en ouers, by die Voortrekkermonument in Pretoria aangekom. Die ouers het gekreun en gesteun en gekla oor die koue, maar dit het nie een oomblik die atlete se opgewondenheid gestop nie.

Vanjaar se Super 12-landloopgeleentheid is deur Laerskool Stephanus Roos aangebied. Welgedaan Rosies, ons dink dit was ‘n reuse sukses.

Die seremonie is met skriflesing en gebed deur die hoofmeisie en hoofseun van Laerskool Stephanus Roos geopen. Met die liedjie Chariots of Fire waarmee, eens op ‘n tyd, olimpiese speles geopen is, was dit sowaar ‘n gepaste manier om hierdie wonderlike dag en geleentheid af te skop. Dit was hoendervleismooi. Ek het een van die oupas, wat daar was om sy kleinkinders te ondersteun, hoor sê: “Ek het nou ook sommer lus en hardloop saam.”

Soos ek met die Rantie-atlete gesels het, was dit duidelik dat die fokus nie net op wen was nie, maar om die wedloop met die regte gees en gesindheid aan te durf, om dit te geniet (ons is tog net kinders) en om hard te probeer om nie te val nie, maar as jy val, op te staan en klaar te maak. Al is dit met ‘n traan of twee op die wang.

Ons is trots op die Ranties wat 13de plek onder die 22 deelnemende skole behaal het.

Ons dogters het 'n indrukwekkende algehele 8ste plek behaal, terwyl die seuns 'n 17de plek behaal het.

Die o. 11-meisies het wonderlik presteer en 'n indrukwekkende 4de plek in hulle ouderdomsgroep behaal.

Elarsduspark het as die oorwinnaars uit die stryd getree, met Constantiapark in die 2de plek.

Spesiale gelukwense gaan aan ons susterskool, Orion, met hul uitstekende algehele 3de plek.

Ons is trots op elke atleet wat ons skool verteenwoordig het en dankbaar vir al die ouers wat hul kinders kom ondersteun het. 'n Hartlike dank aan me. Gerber en haar man vir hul toegewyde ondersteuning en wat elke atleet kom sterkte toewens het. 'n Spesiale dankie aan ons onderwysers wat alles georganiseer het en daar was om ons by te staan en moed in te praat waar nodig of wat langs die pad gestaan het om ons aan te moedig. Juffrou Feuth kan lekker hard gil hoor, ek het sommer ekstra vinnig begin hardloop toe ek haar hoor!

Baie geluk aan elke Rantie-atleet wat deelgeneem het. Soos iemand een keer gesê het: “Die dors in jou keel en ongemak in jou longe, sal weg wees minute nadat die wedloop voltooi is. Die pyn in jou bene, binne dae. Maar die trots om die wedren te kon voltooi, sal 'n leeftyd hou.” 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.