Tennis laat ’n mens gewoonlik dink aan spierwit klere, blink trofeë en aarbeie met room — à la Wimbledon. Maar agter die “glans” skuil seer voete, baie sweet en ure in die warm son.
’n Lang dag op die tennisbaan is alles behalwe glansryk.
Kom beleef so ’n dag saam met my!
07:30 Jy verbeel jou jy’s Novak Djokovic.
Jy kom vroeg by die bane aan. Die lug is nog koel, jou skouers is los en jy voel reg vir die dag.
Jou tennissak is gepak asof jy vir 'n week van die huis af weggaan: drie rakette, ses liter water, piesangs, energiestafies, ekstra sokkies en genoeg sonbrandroom om 'n hele rugbyspan spierwit te smeer.
Jy voel in beheer en jou selfvertroue is hemelhoog. Hoe moeilik kan hierdie dag nou eintlik wees?
11:30 – Die braaipan
Teen wedstryd nommer twee het die koel oggendlug soos mis voor die son verdwyn.
Die baan verander in ’n reuse braaipan. Jou hemp plak teen jou rug vas. Jou voete voel soos twee bosveldvure en daardie “waterdigte” sonbrandroom… het lankal in jou oë ingeloop: Dit lyk asof daar drie tennisballe gelyk op jou afkom! (Wenk: Mik vir die middelste een!)
Novak Djokovic? Net in jou drome!
16:30 – Die oase
Die laaste wedstryd is uiteindelik verby. Jy skud hande, pak jou rakette weg en sleep jouself kar toe asof jy sopas deur die Sahara woestyn gehardloop het. Jou gesig is kreefrooi verbrand en jou sokkie-tan gaan jou waarskynlik tot volgende somer bybly.
Dit was ‘n lang dag in die son…maar…
By die huis wag ʼn oase: die swembad … en dalk selfs ’n bakkie aarbeie met room!