Geskryf deur: Taylin de Jong 2 min

Onderhoud met ‘n Rantie go-kart-renjaer

“Go-karting” is nie net ‘n stokperdjie of ‘n ontspanningsaktiwiteit nie, dis ook ‘n kompeterende sport. Selfs bekende F1-renjaers, soos Michael Schumacher en Lewis Hamilton, het as “karting”-renjaers op ‘n jong ouderdom begin jaag. Sommige van ons het al oor ‘n naweek pret gehad met hierdie snelkarretjies, maar Ronin Woest, ‘n graad 7-Rantie, is ‘n “go-kart”-renjaer wat besig is om in die “go-karting”-kringe opspraak te maak. Met ‘n spoed, is hy besig om naam te maak - letterlik en figuurlik.

Ronin het tydens die 2020-inperking met “go-karting” begin; hy onthou selfs die spesifieke datum, 30 Julie 2020. Hy is dus net meer as 2 jaar ‘n renjaer, maar hy woeker om en om die baan. Hy neem reeds in September 2022 aan ‘n kampioenskap in Spanje deel.

Ronin se oom is al ‘n geruime tyd ‘n renjaer en oom Deon het hom aan “go-karting” bekendgestel. Sy oom is beslis ook sy “go-karting”-rolmodel. Ronin oefen een keer per week en hy vind die oefentye heel gemaklik, alhoewel dit soms ‘n hele dag in beslag kan neem.

Ronin sê enige iemand kan “go-kart” ry en jy het nie vorige ervaring nodig om te begin nie. Jy het ook nie ‘n lisensie nodig nie; daar is selfs 5-jariges wat “go-kart” ry. Lyk my dis maklik om te begin, solank jy die koste kan dek. ‘n “Go-kart”-kar kan jou tot R80 000 uit die sak jaag en dan moet brandstof, uniform, deelnamefooie, ens. ook in berekening gebring word.

Hierdie “go-kart”-karre kom nie net teen ‘n groot prys nie, hulle het groot krag ook. Jy kan tot 80 km per uur ry met gravitasie van 2 “g-force”, soos Ronin sê. Hy beveel dit aan vir enige iemand wat van opwinding hou, indien jy die onkostes kan betaal. Dit klink vir my na ‘n baie opwindende sport.

Hou ons naam hoog, Ronin! Ons kyk hoe jy naam maak met elke wedren. Ons hoop jy JAAG al jou drome na! 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.