Met slegs ‘n paar weke om te gaan tot en met die revue-aande, borrel almal oor van opgewondenheid vir Laerskool Randhart se groot konsert. Al die skoliere is al vir die laaste 8 maande hard aan die oefen en daar is meer as net so ‘n paar seer liggaampies.
Elke kind oefen onvermoeid om vir vyf onvergeetlike aande vol energie en emosie op die verhoog te dans. Elke skooldag kan mens hoor hoe die kinders oefen met al die musiektreffers in die agtergrond. Nie net die danse lyk goed nie maar soos die oefeninge aangaan, raak die saal se verhoog ook al hoe mooier!
Almal is besig om klaar te maak met die vermaaklike danse en dis nou tyd om seker te maak dat alles perfek vir die konsert sal wees. Die choreograwe is besig om oulike dansbewegings te organiseer, sodat die revue foutloos verloop en die leerders goed voorbereid is. Die bemanning kyk na die posisionering van die beligting, of die musieksisteem se klank reg is en of die program glad sal loop. Al die dansers moes hul hempies aanpas om seker te maak dat almal blink sal lyk!
Ek het vir die graad 5-leerders gevra wat hulle van die revue dink en hulle het as volg geantwoord: "Ons sien baie uit na die aande en glo dat dit die lekkerste deel van ons skooljaar sal wees.” Ons glo dat die revue ’n blywende impak op die skoliere en gehore sal los en ons sien met groot afwagting uit na “Hier kom ’n Ding”.