Geskryf deur: Marichke Pucjlowski 3 min

Ranties verwelkom nuwe bloed

Hulle sê verandering is so goed soos ‘n vakansie. Hier by die Ranties dink ons ook so! Veral as dit beteken dat daardie verandering maak dat ons ‘n allemintige agt nuwe personeellede ryker is!

Dit is vir my en my mede-Ranties ‘n groot voorreg en plesier om al die nuwe bloed hartlik te verwelkom. Mag hierdie verandering inderdaad so opwindend en genotvol wees soos ‘n vakansie.

Ek het gaan aanklop by die nuwe Rantie-familielede om hulle so bietjie beter te leer ken...

Ons eerste deur is by me. K. Buckland.
Sy is by die grondslagfase en gee vir die graad 3’s klas. Sy kom van Mondeor Primary af en nadat sy vir agt jaar daar gewerk het, het sy ook gedink ‘n verandering sal so goed wees soos ‘n vakansie.

Sy het ‘n passie om skool te gee en om te sien dat die kinders ‘n geleentheid gegun word om te leer. Gelukkige kinders is vir haar uiters belangrik.

Haar droom vir 2023 is om te sien dat elke kind nie net die jaar slaag nie, maar dit gelukkig en suksesvol afsluit en dat hulle iets daaruit geleer het.

Ons tweede deur is by me. C. Barnard.
Ons skuif so ‘n trappie op en vind haar by die intermediêre fase – die graad 4’s.

Sy bly haar hele lewe lank nog in Centurion en het eers onlangs haar vlerke gesprei en is nog ‘n splinternuwe Albertonner.

Sy is baie passievol oor kinders, diere en die belangrikste: haar verhouding met God.

Haar droom vir 2023 is om die beste juffrou moontlik te wees en om as mens te groei. “The sky is the limit”, Juffrou!

Ons derde deur is ook by die intermediêre fase en graad 4’s. Ons klop hier aan by me. I. Müller wat vir ses jaar by ‘n seunskool in Johannesburg skoolgehou het – KEPS (King Edward VII Preparatory School).

Haar passie is om kinders te onderrig, hulle te help om slim te word en hulle meer te leer oor alles van die lewe en die wêreld. Sy wil hulle inspireer om meer te lees en sodoende meer kennis op te doen.

Opgewonde vertel sy ons van wat sy vir 2023 beplan en waaroor sy droom! Dis natuurlik ‘n sprokiestroue op 8 Desember. Sy wil ook graag gedurende die jaar sien dat kinders ‘n passie kry om skool toe te wil kom en om te wil leer. “Ons kyk uit vir die mooi foto’s”, Juffrou!

By die vierde deur maak me. K. v.d. Scyff vir ons oop. Sy is ook by die graad 4’s.
Klink of ons ‘n regte Kapenaar hier in ons midde het. Alhoewel sy in Belville in die Kaap gebore is, het sy in Gauteng groot geword.

Sy praat passievol oor hoe sy opgewonde is om elke dag met kinders te werk en deel uit te maak van hulle vormingsjare, waar sy altyd streef om ‘n bydrae te lewer om hulle te help vorm tot die beste van haar vermoë.

Haar droom vir 2023 is om al die kinders hierdie jaar soveel as wat sy moontlik kan, te leer en hulle al die kennis te gee vir dit wat hulle nodig het, nie net akademies nie, maar ook wat hulle in die lewe nodig sal kry. Sy hoop sy kan vir die kinders van Randhart 2023 die beste jaar van hulle lewe maak!

Ons bly op die graad 4’s se vloer en by die vyfde deur maak me. B. Botha vir ons oop.

Die pragtige blondekop juffrou is ‘n ou Albertonner. Sy is in Alberton gebore en het hier groot geword. Sy het in 2016 ’n bietjie groener weivelde gaan soek en in Saoedi-Arabië gaan skoolhou vir amper sewe jaar. Maar haar land is haar land en sy het onlangs terug gekeer na eie bodem, haar geliefde Suid-Afrika.

Haar passie is om alle leerders waarmee sy te doen kry te inspireer met haar dryfkrag en bereidwilligheid om ander op ‘n positiewe manier aan te raak en so ‘n verskil in hul lewens te maak.

Sy droom ook soos die ander wonderlike juffrouens vir haar skoolkinders. Haar droom vir 2023 is om haar graad 4-leerders te kry om van Wiskunde en skool te hou en hulle te sien uitstyg om hul drome eendag te verwesenlik.

Ons volgende aanklop is by deur ses, die IT-Departement en daar vind ons vir mnr. J. Nortjé.

Hy vertel trots dat hy in Pretoria op laerskool was (en ja! Hy ondersteun beslis steeds die Bulle). Hy voltooi sy hoërskoolloopbaan op die platteland, maar keer terug na sy geliefde “blou” wêreld om die studentelewe te geniet. Hy sprei sy vlerke bietjie na Brittanje om die wye wêreld te gaan verken, maar besluit uiteindelik dis tyd om groot te word, te trou en kinders groot te maak.

Sy passie lê baie beslis by sosiale media waar hy alreeds ‘n kenner en kundige is , omdat hy al vir jare op dié platforms werk. Hy geniet dit baie om op die platforms stories kreatief te kan uitbeeld.

Een van sy grootste drome, wat ‘n jaarlikse droom bly, is om elke jaar die perfekte kreatiewe storie daar buite te kry. Ons glo saam met hom dat daar volop geleenthede is en by Laerskool Randhart kom hy beslis al hoe nader aan daardie perfekte storie.

Ons is van die stoepe af en ons moet die litte begin losmaak en ‘n hele ent loop na ons volgende stop sonder ‘n deur. Daai fluitjie wat ek hoor behoort aan mnr. J. Steyn, die nuwe KDA-korporaal, wie se kuite (volgens al die mammas by die skool) blykbaar nog mooier is as mnr. De Ru s’n.

Meneer Kuite kom van Jeffreysbaai af waar hy op ‘n plaas grootgeword het. Hulle trek later dorp toe en hy studeer op Potchefstroom.

Hy is baie lief vir die natuur, kinders en natuurlik enige sport waar jy in die buitelug jou dosis vitamine D kan inkry. Rugby, krieket, atletiek… die lys hou nie op nie…

Hy kruip diep in hierdie joernalis se hart toe hy vertel dat as daar nou een droom is wat hy wil uitsonder, van al die baie wat hy vir 2023 het, is dit dat hy elke dag wil strewe om ‘n mens soos God te wees. Hy besef as onderwyser dat kinders opkyk na hom en besef die plig wat op sy skouers lê om ‘n voorbeeld te stel en ‘n Christen-rolmodel te wees wat altyd God se waardes uitleef.

Hierdie inklop-kuiers was heerlik, maar ek is nou omtrent uitasem en sit sommer op die trap en dink. Ons is beslis bevoorreg en almal verheug om sulke talentvolle individue by ons Rantie-gemeenskap by te voeg en wil hulle verseker dat elke Rantie daarna uitsien om hierdie pad saam met hulle te stap. Tree vir tree.

Julle het reeds julle eerste treë op hierdie nuwe reis binne Randhart gegee en terwyl julle hierdie reis aanpak, bid en wens ons julle net die beste toe. Mag elke tree wat julle binne hierdie mure en gange gee voorspoedig wees, gevul met vreugde en oorvloed leergeleenthede. Mag julle treë julle ook in staat stel om 'n positiewe verskil in die lewens van ons leerders te maak en 'n positiewe voorbeeld en inspirasie vir elke kind te wees.

Ons wens vir julle ‘n lang en suksesvolle loopbaan hier by ons toe.

Rantie-groete

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.