Geskryf deur: Clarindie le Roux 1 min

RANTIES LIEF LEES!

Garrison Keillor het gesê: “’n Boek is ‘n geskenk wat jy weer en weer kan oopmaak.” Ons Ranties stem saam en het op 23 April 2024 Wêreldboekedag behoorlik gevier. Wêreldboekedag staan ook bekend as Wêreldboek- en kopieregdag of Internasionale Dag van die Boek. Dit is deur UNESCO ingestel om lees, publisering en kopiereg te bevorder.

Hier by die Ranties het ons die dag gevier deur leerders die geleentheid te gee om soos hul gunstelingboekkarakter aan te trek. Almal se verbeelding het vlerke gekry en ons het karakters vanaf Saartjie, Wimpy Kid tot Cowboy Koekemoer gesien. Ouma Mollie was ook ‘n treffer! Hierdie dag was sowaar een vir die BOEKE!

In ware Rantie-gees, het ons dit ‘n stappie verder gevat. Leerders is ‘n kans gegun om boeke saam skool toe te bring en onder mekaar uit te ruil. Só kon ons nuwe avonture met mekaar deel.

Hier by Laerskool Randhart gryp ons elke geleentheid aan om ‘n liefde vir lees te kweek. Om te lees verbreed jou horison en elke nuwe hoofstuk van jou gunstelingboek vat jou op ‘n opwindende ontdekkingsreis. Wat ‘n lekker avontuur!

Fluit-Fluit, my storie is uit... Hoop die “leesgogga” het jou ook gebyt! 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.