Geskryf deur: Clarindie le Roux 1 min

RANTIES GEE OM

Netbaltekkies, draftekkies, oefentekkies, tekkies vir fliek toe gaan… tekkies vir Afrika!

Maak maar net jou kas se deur oop en kyk na al die verskillende tekkies wat mooi soos soldate in hulle rakkies reg staan. Min besef ons die behoefte in ons eie gemeenskap, reg onder ons neuse, waar hoeveel mense met verslete of geen tekkies of skoene rondloop nie.

Wel, die jaar het die Ranties ingespring en besluit om op Mandeladag, 18 Julie 2024, ‘n verskil te maak. Tydens Mandeladag word Nelson Mandela se nalatenskap en waardes geëer deur mense aan te moedig om vrywilligerswerk en gemeenskapsdiens te doen. Elke individu het die vermoë om ‘n verskil te maak en die wêreld in ‘n beter plek te verander.

Ons het vir onsself ‘n doelwit gestel om ’n 1 000 paar voete van tekkies te voorsien. Almal het skouer aan die wiel gesit en in ware Ranties-gees het ons die teiken oorskry met behulp van ywerige leerders wat hulle harte en kasdeure oopgemaak het vir mense wat ‘n paar tekkies of skoene benodig.

Baie dankie aan juffrou Van As wat voorgeloop het met die tekkie-projek en aan elke ouer en leerder wat so mildelik bygedra het. Saam het ons ‘n verskil gemaak.

Ek sluit af met iets wat moeder Teresa gesê het:” Doen klein dingetjies met groot liefde in jou hart.” Dankie Laerskool Randhart, julle omgeeharte is mooi!

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.