O wee… dit is eksamentyd op die Ranties se werf en die senuwees knaag maar lekker aan die leerders (en ook die ouers). Die druk om te presteer is groot en ai toggie, die vakansie kan nie gou genoeg kom nie! Die Rantie Antie verstaan dat die eksamen soms soos die aand voor Kersfees kan wees – jy kan nie slaap nie en hoop tog op ‘n wonderwerk! Sterkte aan al die Ranties met die eksamen.
Liewe Rantie Antie
My ma sê sy gaan my R100 gee vir elke vak wat ek bo 80% kry, maar ek sukkel om bo 60% te kom. Hoe kan ek my ma laat verstaan 60% is my beste?
- Moedeloos
Liewe Moedeloos
Ouers is snaakse kreature wat partykeer moeilike eise stel, maar ek kan jou verseker dat Mamma net jou beste belange op die hart sal dra. So, ek dink dit is tyd dat jy oop kaarte met jou ma speel en haar vertel dat die druk niemand goed doen nie. Span jou ma in om aan ‘n aksieplan te werk hoe jy jou punte van 60% na 80% gaan verbeter. Wie weet, jy verbaas dalk jouself.
Liewe Rantie Antie
My juffrou is nie baie gelukkig met my nie. Ek eet, slaap en oefen krieket elke dag. My juffrou verstaan nie; krieket is my lewe. Sy vra toe in die toets wat beteken: “Uit die veld geslaan” en ek antwoord toe: ‘n 6. Toe gee sy my detensie. Dis mos nie regverdig nie?
- Jonty
Liewe Jonty
Ek is stomgeslaan! Die lewe gaan oor balans. Natuurlik mag jy jou passie vir sport uitleef, maar soms moet jy verstaan dat die kolf nou neergesit moet word, die drome effens in die tas gedruk moet word en dat jy die boeke moet uithaal en leer. Briljante krieketspelers kan ook slim wees.
Liewe Rantie Antie
Ek verstaan nie Geografie nie. Wat is die ewenaar? My boetie was nou die dag naar gewees en toe raak ek ewe naar soos hy? Ek verstaan nie, Meneer het dit nie reg gemerk nie?
- Geo
Liewe Geo
Kry ek eweskielik ‘n naar kol op my maag! Ek dink dit is tyd dat jy in die Geografieklas oplet. Dit sal ook nie seer maak om so nou en dan ‘n vraag te vra tydens klas nie. Ons wil nou nie hê jy moet deur Europa toer net om uit te vind jy is eintlik in Asië nie.
Liewe Rantie Antie
Waar vervaardig mens sykouse? Dit is mos Pep Stores? My juffrou het dit verkeerd gemerk.
- Verward
Liewe Verward
Natuurlik word dit in Pep-winkels vervaardig! Moenie dat iemand jou anders probeer oortuig nie.
Liewe Rantie Antie
My juffrou wou weet wat kan jy nooit vir ontbyt eet nie? Dit is mos middagete en aandete… hoe dan nou anders? My juffrou het gesê ek moet ophou vir my kom staan en slim hou.
- Slim Jan
Liewe Slim Jan
Voor jou naam verander na Dooie Jan, stel ek voor jy sit eerder en hou jouself boeke-slim. Juffrouens is soms onvoorspelbaar; jou ma mag dalk net ‘n onverwagse oproep kry.