Die Public Speaking van 2024 het by Laerskool Randhart op 19 September 2024 in die skoolsaal plaasgevind. Dit sit nie in almal se broek om voor mense te staan en praat nie en ‘n paar van ons brawe Randhart-leerders het hul talente kom wys.
Juffrou Van As het as voorsitter opgetree, vier van Randhart se onderwysers was beamptes en twee beoordelaars – almal het met groot opwinding na die kinders se toesprake kom luister. Die grootste groepie was die graad 4-leerders en hulle het vir die ouer kinders behoorlik gewys hoe dit gedoen word. Die middag was opbouend en die kinders het goeie argumente gehad. Ek dink party leiers kan daarby baat om ‘n paar lesse by ons sprekers te neem. Alhoewel die senuwees bietjie geknaag het, het elke kind met oortuiging en entoesiasme hul toespraak gelewer en vir goeie vermaak gesorg. Hulle is nie bang om op die verhoog te staan nie – die verhoog is eerder bang vir hulle.
Baie geluk aan die naaswenners en wenners van elke ouderdomsgroep. Die Randhartseuns en -dogters het definitief iets om vir die wêreld te wys! Daar lê ‘n blink toekoms vir al die leerders voor!