Ons speel nie genoeg nie. Dis nou maar ’n feit soos ‘n koei.
Elke dag is ’n gejaag. Ons jaag skool toe; jaag huis toe. Dan jaag ons weer van een aktiwiteit na die ander. Ons jaag, jaag, en jaag. So jaag ons voort, blindelings deur die lewe op pad na die grootmenswêreld.
Dan praat ek nie eens van tyd nie. Daar is soms hopeloos te min tyd in ’n dag om by ons besige skedules in te pas. Wat nog van huiswerk, opsommings en leer. En moenie van ons sosiale tyd vergeet nie!
Ons mis uit op die avontuur, opgewondenheid, lekkerte en plesier van kindwees, want ons speel nie genoeg nie.
Vra enige ouer persoon. Hulle sal saamstem. Verby is die dae van Wegkruipertjie, Bok in die hok, tolletjie gooi en Krappe-en-krewe. Meeste van my maats dink ek praat ’n vreemde taal as ek hierdie name vir hulle noem.
Vandag se kinders dink dis “cool” om eerder Tik Tok-video’s te maak of heeldag Playstation te speel. Maar min weet hulle hoe belangrik speel vir ons as kinders is.
Vaardighede soos balans, koördinasie, probleemoplossing, beplanning asook groot- en fyn-motoriese ontwikkeling vind so speel-speel plaas. Arbeids- en fisioterapeute kan nie genoeg klem hierop lê nie.
Om kind te wees, is ook die beste oomblikke van ’n mens se lewe. So komaan Ma’s en Pa’s, Oumas en Oupas, help ons om hierdie simpel gejaag na die grootmenslewe stop te sit. Help ons om ons tyd beter te beplan. Leer ons weer wat is Blindemol, Bok-bok staan styf, Vroteier en Wolf, Wolf, hoe laat is dit?
Help ons om ons volle potensiaal te bereik deur te speel, want dis nou maar net ’n feit: Ons speel nie genoeg nie!