Ek het die voorreg gehad om met juffrou Bonita Mentz te gesels oor die netbalkliniek vir die juniorfase-spelers. Met 'n glinster in haar oog en ‘n bal in haar hand, het sy my meer van haar passie vir die ontwikkeling van jong netbalspeelsters vertel.
"So, juffrou Bonita," het ek gevra, "hoe het die idee vir die netbalkliniek ontstaan?" Sy het glimlag en gesê: "Wel, ek het besef dat ons toekomstige netbalsterre van kleins af ‘n liefde vir die sport moet ontwikkel en so het die idee vir die kliniek ontstaan!" Sy het verduidelik dat die kliniek nie net oor die basiese balvaardighede gaan nie, maar ook oor die kweek van 'n liefde vir die spel, die ontwikkeling van selfvertroue en dissipline by elke speler.
“Maar wat maak die netbalkliniek so uniek?” het ek gevra. Sy het uitgebrei en geantwoord: "Ons begin met basiese vaardighede soos die regte manier om 'n bal te vang en te gooi. Dit is nie net balvaardighede nie, maar ook voetvaardighede, doeltegnieke en hand-oog-koördinasie-oefeninge! Ons leer die spelers om slim en strategies op die baan te dink en teen die einde van elke kwartaal begin die spelers teen mekaar wedstryde speel!"
Die energie en opwinding wat juffrou Bonita uitstraal, is aansteeklik. As jy op soek is na 'n avontuur en 'n klomp pret, dan is die netbalkliniek met juffrou Bonita Mentz net vir jou! Kom sluit aan, leer die fyn kuns van die spel en word 'n netbal-ninja – die netbalwêreld wag vir jou!