Maak gereed om 'n opwindende nuwe hoofstuk in sport by Laerskool Randhart te aanskou. Ons stel bekend... krieket vir meisies. Dit is tyd om die norm uit te daag en te bewys dat meisies die krieketveld net soveel as die seuns kan “rock”. Ons het aan juf. Kloppers gevra wat hierdie nuwe geleentheid vir ons dogters bied. Die proewe was alreeds einde Mei 2023.
Waarom krieket vir meisies?
Ek dink daar is baie meisies wat nie netbal of hokkie speel nie en dit gee vir hulle ‘n geleentheid om ‘n ander sportsoort te beoefen.
Waarom het Juffrou besluit om dit ‘n sport vir meisies te maak?
Krieket is al baie lank ‘n meisiesport. Ek het self op skool en provinsiaal meisieskrieket gespeel waar ons teen ander provinsies soos Lions, KZN inlands, Dolphins, North West, WP om net ‘n paar te noem, gespeel het. Die afgelope paar jaar het vrouenskrieket ongelooflik baie opgetel en is nou ‘n baie bekende sport om na uit te sien. Mnr. Conraad van der Merwe het selfs ons eie Proteas-vrouekrieketkaptein, Suné Luus, afgerig toe sy op laerskool was.
Hoeveel spanne is daar en hoekom?
Ons het besluit op twee spanne om meer dogters die geleentheid te gee om te oefen en te leer. Hoërskool Marais Viljoen is tans ook in die proses om 'n meisieskrieketspan te begin.
Waarom het Juffrou besluit om af te rig?
Ek is mal oor krieket en sal graag wil sien hoe meisieskrieket groei. Ons is ‘n baie lekker span afrigters wat saamwerk en almal het 'n liefde vir die sport.
Ons kan nie wag om al die ongelooflike dinge te sien wat hulle in die toekoms sal bereik nie!