As 12-jarige het ek reeds ‘n wêreld van wonders ontdek wat in die bladsye van boeke versteek is. Dit het my laat wonder hoekom sommige van ons kinders nie lees nie of nie lief is daarvoor nie?
In hierdie artikel hoop ek om die ongelooflike belangrikheid van lees vir julle te beklemtoon en te oortuig hoe lees jou lewe op soveel maniere kan verander.
Behalwe dat dit baie lekker is om saam met die karakters in die boek na plekke te gaan wat jy in jou verbeelding kan opmaak, het ek (met die hulp van my ma) inligting op die internet gaan soek om jou van die voordele van lees te oortuig. Ek noem graag ‘n paar.
• Die bou van taalvaardighede – Lees stel ons bloot aan 'n skatkis van woorde en frases, brei ons woordeskat uit en leer ons so ook die betekenis van woorde. Soos ons deur die bladsye blaai, leer ons nie net om te spel nie, maar ook sinskonstruksie wat later effektiewe kommunikasievaardighede voortbring.
• Jy leer oor die wêreld – Boeke is vensters na die wêreld en gee ons ‘n kykie in verskillende kulture, plekke en historiese gebeurtenisse. Volgens die slimmes help dit ons om empatie te wys en verbreed ons perspektief, wat ons meer oopkop en deernisvolle individue maak.
• Dit bou kreatiwiteit – Die vonk van kreatiwiteit skuil in elke boek. Wanneer ons in 'n storie duik, is ons gedagtes vry om lewendige beelde op te tower, wat ons kreatiwiteit noem en dit is wat ons aanmoedig om buite die boks te dink en verby die grense van die werklikheid te droom.
• Lees verhoog intelligensie – Dr. Seuss het een keer gesê: "Hoe meer jy lees, hoe meer dinge sal jy weet." Lees is nie net lekker nie; dit is ook 'n oefensessie vir ons brein. Die blootstelling aan nuwe woorde en idees stimuleer kognitiewe groei, wat lei tot verbeterde geheue, konsentrasie en kritiese denkvaardighede. Plus, studies dui daarop dat sterk vroeë leesvaardighede tot hoër intelligensie later in die lewe kan bydra.
Deur al hierdie navorsing te doen en op te lees, het ek sommer myself ‘n hele paar nuwe woorde en dinge geleer en voel ek sommer al klaar slimmer.
Dat die Ranties moet lees en daarvan hou om te lees, is van uiterse belang vir elkeen en iets wat ons skool en sy onderwysers na aan die hart lê.
Met die hulp van juffrou Van As, het sy die idee begin wat ons by die Ranties Leestjommies noem.
Ek het by juffrou Van As gaan aanklop om meer te hoor oor hierdie wonderlike inisiatief:
Hoe het die idee van Leestjommies ontstaan?
Nadat so baie leerders tydens COVID nie skool toe kon kom nie, het ek besef lees is by ons kinders ‘n probleem. Baie ouers werk lang ure en kan nie hulle kinders help om ‘n liefde vir lees te kweek of om hulle te help om beter of meer te lees nie. Sommige leerders sukkel ook om in ‘n formele klasomgewing te lees en dan is die informele atmosfeer van baie waarde.
Wanneer het Leestjommies die eerste keer begin en hoe lank is dit al aan die gang?
In 2022 het ons probeer, maar die projek was in sy ontwikkelingsfase en nie baie suksesvol nie. In 2023 is die projek meer verfyn en het die Ranties se mediasentrum die plek geword waar senior- en juniorleerders mekaar weekliks voor skool ontmoet en dan word daar saam gelees. (Amper soos ‘n boekklub, nè?)
Wat is die doel van Leestjommies?
Die doel is om seniorleerders wat goed lees en reeds op ‘n hoë vlak kan lees (en lief is vir boeke en lees) bymekaar te bring. Hierdie seniors help dan op ‘n informele wyse die leerders van die juniorfase om beter te lees en te verstaan, sodat hulle ook met begrip kan lees. Dit help die kinders wat nog sukkel om te lees en gee die ouer leerders ‘n gevoel van waardigheid. Albei wen, want dit is ‘n manier vir die seniors om terug te kan ploeg. Die juniors voel dat hulle ook ‘n geleentheid kry om te leer.
Kan enige seniorleerder help?
Leerders wat goed in Afrikaans en Engels presteer en wat lief is vir lees. Aan die einde van hul graad 5-jaar word hierdie leerders geïdentifiseer en die geleentheid gebied om ‘n verskil te kom maak, ander te help lees en hulle te leer om lief te wees vir lees. Dit is vrywillig, maar die voorwaarde is:
• jy moet opdaag wanneer dit jou beurt is om te help;
• jy moet goed kan lees en lief wees daarvoor, sodat jy ander kan inspireer om ook lief te word vir lees;
• jy moet ook daarvan hou om iets van jouself te gee! Van jou tyd en geduld.
Hoe kan jy lief raak vir lees? Hier is 'n paar idees om jou liefde vir boeke aan die gang te kry:
• Sommer hier op die skoolgronde: Kom besoek die Leestjommies in die oggende voor skool in die mediasentrum.
• Oudioboeke: Begin met oudioboeke om die “magic” van stories te ervaar. Die afwagting van wat volgende gebeur, sal jou vasgenael hou. As jy jou liefde vir stories so verkry, sal jy later wel self die boeke begin optel en lees.
• Sluit aan by 'n Boekklub: Boekklubs is waar vriende bymekaarkom om mekaar te vertel van die boeke wat elkeen huidiglik lees. So leer jy nuwe skrywers ken en kan jy sien of daar boeke is wat hulle lees waarvan jy ook sal hou. Dit is ‘n baie lekker ervaring (net soos Leestjommies).
• Hou altyd 'n boek byderhand: Jy sal verbaas wees hoeveel vrye oomblikke jy met lees kan vul, soos as jy saam met jou ma by die bank in daai lang rye moet sit en wag.
• Omhels afwagting: Hou op lees by die opwindendste deel, want dit skep 'n gevoel van afwagting – dit maak dat jy nie kan wag om weer aan te hou lees nie.
• Besoek jou skool se mediasentrum of jou dorp se biblioteek: Biblioteke en mediasentrums is ‘n skatkis van kennis en avontuur.
• Kies jou belangstellings: Kies boeke wat ooreenstem met jou belangstellings. Wanneer jy lees oor dinge waarvan jy hou, word die ervaring selfs lekkerder.
Onthou die “magic” van lees strek veel verder as die woorde op die bladsy. Dit maak deure oop na nuwe interessante plekke en karakters. Dit kry ons verbeelding aan die gang en maak van ons beter, slimmer kinders.
Hoop ons sien jou by die Leestjommies!