Geskryf deur: Wernich van Niekerk 1 min

Kunsfeesuitstalling 2024

Op 12 September het die jaarlikse Kunsfeesuitstalling plaasgevind en die Rantie-leerders het weereens gewys hoeveel talent in hulle steek. By die spoggerige geleentheid kon die ouers en familie die leerders se pragtige kunswerke kom besigtig en bewonder. Van kleurvolle lekkergoedwoestyne tot herontwerpte skaakstukke om elke hoek en draai was dit vir seker ‘n aand om te onthou. Met mediums van verf tot pastel tot ‘n gewone gryspotlood, was die kunswerke voorwaar iets om te aanskou.

Juffrou Kitching, een van ons kunskenners, het die volgende oor die leerders en hul kunswerke gesê: “As daar een ding is wat my hartsnare tokkel, is dit om die Ranties se kunssinnige kant te beleef. Hierdie voornemende kunstenaars verbaas ‘n mens jaarliks met hulle oorspronklike waarnemings van alledaagse onderwerpe. My hart bars van trots.”

Kian van Niekerk in graad 6 het met ‘n allemintige prestasie van afdelingwenner en itemwenner van vier items weggestap. Sy grootste inspirasie is Bob Ross en hy het baie by hom geleer. Sy persoonlike gunsteling was die herontwerpte skaakstuk wat ongelooflik gedetailleerd was.

Met die woorde van Vincent van Gogh - “Doing little things well is a step toward doing big things better” – sien ons uit om weer volgende jaar al die versteekte talente te aanskou. 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.