Geskryf deur: Leora Höll 3 min

Kunsfees: Ranties verstaan die kuns van kuns!

Die Kunsfees is om die draai en dit is tyd vir die Ranties om met hul meesterstukke te spog! Ons het ‘n paar vrae vir juffrou Kitching gevra om meer uit te vind.

Wie mag inskryf?
Absoluut enige graad 1 tot 7-Rantie-leerder wat graag met hulle kunswerke en talent wil spog. Ons hier by Laerskool Randhart glo vas daaraan dat daar ‘n Picasso diep binne in elke persoon skuil. Hy of sy moet hom net ontdek. Probeer is die beste geweer.

Wanneer sluit inskrywings?

Die inskrywings sluit op Vrydag 2 Junie. Die kunswerk saam met die R40 moet by die betrokke personeellede inbetaal word. Daar is meer as genoeg tyd oor om sommer vir ál die temas in te skryf. Waarvoor wag jy?

Wat is die verskillende temas waarvoor jy kan inskryf?
Vir graad 1 tot 3’s is die temas : Robotte, Ons aarde, Uit die oogpunt van ‘n mier, Reënboog, My gunstelingspeelding en ‘n Wilde dier.
Vir graad 4 tot 7’s is die temas : Teenoorgesteldes, Berge, ‘n Kasteel, Onder die vergrootklas, Kerslig, Kaleidoskoop en Binne my verbeelding/drome.
Daar is vele mediums om van te kies soos verf, oliepastelle, gryspotlood, ink, ens.

Wat word gedoen met die afdelingwenners se kunswerke?

Hier kom die opwindende gedeelte! Ons Ranties hou daarvan om te spog. Wat ’n beter wyse as om ons eie kunsuitstalling aan te bied waar hierdie meesterstukke aan die publiek vertoon word?
Verbeel jouself: Jou heel eerste kunsuitstalling van vele meer wat in die toekoms vir jou wag. Is jou tekeninstrument al in jou hand?

Kan jy ‘n prys wen?

Elke deelnemer ontvang ‘n sertifikaat van deelname. Die item- en afdelingwenners ontvang ‘n spesiale sertifikaat. Die afdelingwenners ontvang selfs ‘n wisseltrofee by die prestasietoekennings! Is jy al opgewonde?

Ons sien daarna uit om elke liewe Rantie-kunstenaar se meesterstukke te bewonder!

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.