Ken, Barbie, Seerowers en selfs Springbokke, Imposters en pers Minions het dit op Kaskardag kom uitveg om te sien wie die vinnigste klas in die skool is.
Wat ‘n heerlike dag wat nog meer spesiaal gemaak was deur sportmotors, die mooiste pom-poms-dansers en oulikste klein trompoppie-rakkertjies!
Maar die groot ding van Kaskardag is vir seker die gees en die spanwerk.
Dit was so lekker om te sien hoe klasse bymekaar kom en saam werk vir daardie groot trofee. Dis ongelooflik om te sien hoe die kinders mekaar ondersteun en aanmoedig. Saam hardloop asof hulle op pad oorlog toe is en mekaar dra wanneer die ander een nie meer kan nie. Dit is die hart van Laerskool Randhart en wat my persoonlik baie trots maak om ‘n Rantie te wees.
Die dag kon nie moontlik gemaak word sonder al die mammas, pappas en juffrouens wat so hard gewerk en ure ingesit het aan die oorloguniform vir die dag nie. Die kreatiwiteit van die verskillende klasse was uit hierdie wêreld en dit het dit vir die Ranties maklik gemaak om hulle rol van die gekose tema te speel en die rugbyveld soos ‘n reënboogontploffing te laat lyk.
Ons leerlingraad is daarvan bewus hoekom hulle so ‘n groot rol in ons skool speel, want hulle het die gees hoog gehou met kragtige trotse Randhartliedjies wat deur al die kinders gesing was met die leerlingraad se hulp.
Dit is ook nie ‘n kaskardag sonder ‘n lekker boereworsrolletjie nie en die 2024 eerste span-netbalouers het nie teleurgestel met daardie braaivleisreukie wat al die kinders daardie gevoel van ‘n lekker naweekbraai gegee het nie. Dit het ons almal se monde behoorlik laat water.
Daar was dalk net ‘n paar wenners vir die dag, maar die dag was so geniet deur al die Ranties dat daar gesê kan word dat Kaskardag 2023 die groot wenner van die dag was!