Geskryf deur: Marichke Pucjlowski 6 min

Ja, jy kan 'n verskil maak!

Met verlede maand se Madiba-dag nog vars in ons gedagtes (en natuurlik ook na ‘n praatjie op RSG) het ek gevoel ek wil graag ‘n paar gedagtes met my mede-Ranties deel. Die mooi en wonderlike pogings van soveel mense wat hulle tyd, geld, energie en talente gegee het om iets vir iemand anders te doen, was inspirerend en het my laat besef, ja, ek kan ‘n verskil maak. Jy ook!

Die ander dag, terwyl ek saam met my pa gery het, kon ek nie anders as om te kla oor sy keuse van radiostasie nie. Ek was eerder lus daarvoor om die vensters oop te maak, terwyl ons kliphard na die een of ander “doef-doef”-liedjie luister. Maar nee, my pa het ander planne gehad en daarop aangedring dat ek saam met hom die praatjie op RSG luister. Die stasie wat my broer natuurlik die “oumensstasie” noem. Ek was redelik dikbek hieroor, want waar is die “fun” in dit? Maar Pa het voet by stuk gehou dat ek iets waardevols kan leer.

Tydens hierdie uitsending van “Fit for Life”, wat deur Flip Loots aangebied is, was die gasspreker, dr. Gustav Gouws, wat ‘n predikant is.

Die gesprek het oor die betekenis van die lewe en die konsep van nalatenskap gegaan! Vreeslike groot woorde as jy my vra! My pa verduidelik so tussenin. Dis die onuitwisbare merke wat ons agterlaat en wat 'n ware nalatenskap meebring.

Ek is toe eers deurmekaar met al die groot woorde en dog dit gaan oor iets wat mens kan erf. Dink nie ek wil nou al oor sulke goed praat nie. Maar nee, dr. Gouws (met my pa se stem so tussenin) verduidelik dit gaan nie oor dinge wat aan jou nagelaat word deur ‘n geliefde wat nie meer daar is nie. Nee. Nalatenskap gaan oor om iets wat in ‘n ander se lewe of die samelewing ‘n impak sal maak, agter te laat.

Alhoewel ek die idee van 67-minute van teruggee op Madiba-dag ondersteun, het ek besef dat om 'n verskil te maak nie net tot daardie minute beperk moet word nie. Dit moet eintlik deel wees van ons lewens en wie ons is – om ons tyd en talente te gebruik en ‘n verandering te maak in ander se lewe of die samelewing, sonder om iets terug te verwag.

Die vraag is dus: Hoe kan ek en jy 'n verskil maak? Watter nalatenskap wil ons agterlaat?

Dit kan iets wees so klein soos deur vriendelik te wees met almal by die skool (en oral waar jy gaan). Deel opregte komplimente uit en bou jou mede-Ranties op. Dalk ‘n aanmoeding of om iemand sterkte toe te wens met ‘n toets of ‘n wedstryd, wat beslis daardie persoon se dag sal ophelder.

Kom ons kyk na ‘n paar Ranties wat alreeds ‘n verskil maak en aan ‘n nalatingskap werk en hoop hulle inspireer elkeen om ook iets aan te pak om ‘n verskil te maak.

Elené Anderson, gebruik haar vryetyd (wanneer sy self nie netbal speel nie) om ons graad se netbalspanne te ondersteun en sy voel soos ons eie “cheerleader” daar langs die baan. Sy kies om daar te wees en haar teenwoordigheid beteken baie vir hierdie meisies.

Juffrou Erasmus gee vyf dae ‘n week skool. Mens sal dink teen die tyd is sy al moeg vir kinders. Tog op ‘n Sondag gee sy haar persoonlike tyd om Sondagskool te gee en kinders te leer van die Here.

Milah du Preez is 'n talentvolle steltloper. Sy gebruik haar vaardighede om bewustheid te kweek en help die DBV by uitreikings om troeteldieraanneming te bevorder. Sy maak ook spesiale en unieke karakters met spookasem en gebruik die wins om ander behoeftige skoolmaats te help. Laasjaar kon sy vir ‘n maatjie betaal met die geld wat sy hieruit gemaak het, wat as gevolg van finansiële redes nie die Graad 6-toer kon bekostig nie. Sy gaan dit weer doen hierdie jaar vir haar maatjie se Graad 7-toer.

Adam en Ava Allen se gesin is betrokke by die Spaniel Welsyn van SA. Hulle neem honde in pleegsorg terwyl hulle na geskikte huise vir hulle soek. Ava vertel hoe sy eenkeer geduldig vir 'n getraumatiseerde hond onder 'n tafel boek gelees het en so probeer het om hom kalm te maak en hom probeer help het om mense weer te vertrou. Hy het na ‘n paar dae onder die tafel uitgekom en agter haar begin aanloop en is toe later by 'n gesin geplaas wat vir hom baie lief is.

Ek dink teen nou verstaan julle, dat dit gaan daaroor om van jouself te gee, jou tyd of talente. As jy kitaar kan speel, leer 'n ander wat nie lesse kan bekostig nie. As wiskunde vir jou maklik kom, gee 'n hand aan 'n vriend wat daarmee sukkel.

Kom Ranties! Kom ons saai positiwiteit en vriendelikheid, laat 'n spoor van goeie dade agter en merk ons reis met mening vir ‘n wonderlike nalatingskap.
Miskien kan ons selfs 'n bietjie vreugde daarin vind om nou en dan op RSG in te skakel! 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.