Internasionale teedag word jaarliks op 21 Mei gevier. Dié spesiale dag was in 2005 gestig. Hierdie warm drankie kan saam met ontbyt, middagete en aandete geniet word tuis, in restaurante, werkplekke en kuiergeleenthede. Tee het 'n enorme ekonomiese impak op die wêreld; daarom is daar ‘n internasionale dag vir tee. Tee word die meeste in Turkye gedrink met 95% van die bevolking wat dit drink.
Alle tipes tee word op 21 Mei gevier – van Rooibos tot kruietees. Tee is een van die gesondste drankies wat daar is (behalwe nou water), want dit stimuleer die brein deur dit te kalmeer. Tee bestaan uit blare van teeplante wat dan in fyn stukkies gemaal en met warm water gemeng word om te trek. Die geur van die teeblare meng in die water. Dit is heerlik om te drink met suiker, heuning of ander versoeters. Een van die tees met die meeste gesondsheidsvoordele is Rooibostee. Dit bevat antioksidante wat inflammasie beperk en sekere siektes kan help voorkom.
Tee was 2 737 v.C. deur die Chinese ontdek. Die Chinese keiser, Shen Nung, het onder 'n boom gesit terwyl sy slaaf drinkwater gekook het. Van die blare in die tuin het in die warm water gewaai en die water gegeur. Shen Nung het die nuwe konkoksie, wat sy slaaf per ongeluk gemaak het, gedrink en so is die maak van tee gebore. Vandaar is dit na Japan versprei. Boeddhistiese monnike het dit begin drink en dit het die voorkeurdrankie van gelowige mense in Japan geword. Deur ontdekkingsreisigers in die vroeër eeue is tee na die res van Asië, Europa en Amerika verprei. Dit het vinnig 'n handelsartikel geword en veral baie gesog geraak in Brittanje en Indië. China is steeds vandag die top produsent van tee in die wêreld (68% van die jaarlikse verbruik).
Tee kan met enige iets gedrink word, bv. beskuitjies, kolwyntjies, brood, ens. Mens kan vir klein babas tee gee, veral babas wat allergieë of koliek het. Dit help nogals baie om die babas se magies vol te hou.
Daar is só baie verskillende tipes tee, bv. English Breakfast, Darjeerling en Ceylon Orange Pekoe. Ook kruietees, bv. Chamomile, Pipperment en nog vele meer. 30,9 miljoen Suid-Afrikaners drink tee.
Neem gerus die tyd om op 21 Mei jouself te bederf met 'n lekker koppie tee. Dek die tafel met 'n tafeldoek, mooi blomme en sny vir jou 'n stukkie koek. Nooi sommer 'n paar mense vir die geleentheid en vier teedag saam!