Geskryf deur: Olivia Ford 1 min

Die hoof verjaar!

Verjaarsdae is lekker! Ons almal geniet dit om gewone klere skool toe te dra met ons verjaarsdag en dalk die klasmaats met lekkernye te bederf.

Op Vrydag 26 Julie 2024 het Laerskool Randhart mevrou Gerber se 65ste verjaarsdag gevier. Almal het op die paviljoen bymekaargekom. Die graad R΄e het ook by ons aangesluit. Almal was baie vrolik en groot opgewondenheid het geheers. Niemand het gedink dat mevrou Gerber in ‘n groot, groen trok met ‘n oorverdowende toeter sou opdaag nie!

Die leerlingraad het elkeen vir haar ‘n wit roos gegee terwyl sy op ‘n rooi tapyt geloop het. Dit het een gróót bos gemaak. Te pragtig! Sy het op ‘n bruin leerstoel gesit terwyl almal haar toegejuig het. “Daardie trok was baie oulik. Dit het sommer twee beddens, een bo en een onder gehad,“ het mevrou Gerber ons vertel. Dit was glo iets wat sy nog altyd wou doen – om in ‘n trok te ry.

Daar was nog ‘n verjaarsdagmaatjie gewees op die dag. Kian is vorentoe geroep en die skool het ook vir hom gesing.

Laerskool Randhart wens vir mevrou Gerber baie geluk met die besonderse mylpaal. Mag daar nóg vele wees.

Mevrou Gerber se verjaarsdag was definitief ‘n verjaarsdag om te onthou! Soveel moeite is in die dag gesit om dit ekstra spesiaal te maak. Gelukkig was dit op ‘n Vrydag. Dit is die beste dag van die week om te verjaar. Dan kan mens die hele naweek lank partytjie hou!

Die verjaarsdagvieringe val so saam met haar aftrede aan die einde van die maand. Voorbereiding het al Vrydagoggend begin vir Vrydagaand se afskeidsfunksie in die saal. Groot, ronde tafels was mooi gedek met blou tafeldoeke, blomme in die middel en borde was netjies geplaas met eetgerei.

Ons gaan wel vir mevrou Gerber mis, maar sy sal altyd in ons harte bly! Wat ‘n besonderse manier om ‘n loopbaan af te sluit met só ‘n verjaarsdagfees!

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.