Geskryf deur: Ava Allen 3 min

Hokkie-toer 2023

En net soos die skoolklok lui om die begin van die vakansie aan te dui, spring ons Super 12-hokkiespanne weg op ‘n bus na Camp Discovery in Dinokeng om goed voor te gaan berei vir die toernooi wat middel Julie plaasvind.
Met ons aankoms by Camp Discovery was ons asems weggeslaan deur die mooi geriewe en ons was baie opgewonde oor die diere wat selfs by ons kamers verby geloop het, aangesien Camp Discovery in die Dinokeng-bewaringsgebied is.

’n Verskeidenheid wildlewe, voël- en boomspesies kom in Camp Discovery voor in ‘n tipiese bosveldhabitat. Ons was vroeg in die oggend bederf met ‘n wildbesigtigingsrit en kon ‘n verskeidenheid van wild soos elande, kameelperde, swartwitpense, bastergemsbokke, gemsbokke, waterbokke, rooihartbeeste, koedoes, swart en gewone rooibokke, blouwildebeeste, springbokke, bosbokke, sebras, nyalas, volstruise, duikers, steenbokkies en vlakvarke sien.

‘n Hoogtepunt van die wildrit was vir seker om die flaminke te sien.

Daar is ‘n reël onder ons kinders dat jy na ‘n kamp altyd na jou ma se kos verlang, maar dit was beslis nie die geval op dié hokkiekamp nie. Ons was bederf met lekker kos en van ons het gewens Ma se kos proe meer soos die!
Maar natuurlik was die Ranties daar vir HOKKIE! Hiermee was ons selfs nog meer bederf!

Ons hokkieprogram was aangebied deur Shaun Hulley wat met ‘n lang CV kom wat strek van NWU-hokkiebestuurder tot afrigter van die Noord-Gauteng o. 21 dames (hoofafrigter). In kort: die man weet waarvan hy praat en hy en sy afrigters was net die hokkiekos wat ons nodig gehad het om nuwe tegnieke te leer en ou tegnieke te verbeter.

Die afrigting sowel as spanbou-aktiwiteite het verseker dat ons spanne ‘n hegte eenheid kon vorm. Daar was heelwat wedstryde gespeel en die Ranties-hokkiespanne het nie op hulle laat wag nie.

Seuns:
Verloor Kruinsig 2 - 1
Verloor CP 1 - 0
Verloor LTT 1 - 0
Wen Suikerbos 2- 0
Wen Curro 1 - 0
Gelykop teen Mooirivier 0 – 0

Meisies:
Verloor 2 - 1 teen Kingsmead College
Wen 1 - 0 teen Kruinsig
Verloor 2 - 0 teen Mooirivier
Wen 4 - 0 teen Suikerbos
0 - 0 teen Rooihuiskraal
2 - 2 teen Constantia Park
0 - 0 Louis Trichard

Die wedstryde was ‘n wonderlike kans om ons nuwe tegnieke uit te probeer en om goeie “game time”-oefening voor die Super 12 te kry.

Wat is ‘n kamp nou sonder ‘n bietjie pret? Ons het onsself met al die aktiwiteite vreeslik geniet: van danspartytjies tot swempartytjies en selfs liedjies geskryf en gesing.

Dit was ‘n baie lekker kamp en ons hoop dat dit die Super 12-hokkiespanne net die regte hoeveelheid spanbou, tegniek en “game time”-ondervinding gegee het om die Super 12-toernooi by die horings te pak en die trofee vir ons skool huis toe te bring.

Die Super 12 vind op 21 en 22 Julie by TUKS plaas en ons wens ons spanne sterkte toe. 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.