Geskryf deur: Melinique Nel 4 min

Hokkie is nie speletjies nie!

Hokkie mag dalk op papier soos ’n eenvoudige speletjie lyk – net ’n stok en ’n bal wat oor ’n veld gestoot word. Maar moenie jouself flous nie: hokkie is allesbehalwe net pret en speletjies. Dit is ’n sport wat baie meer van ’n speler vra as wat mense soms besef.

Om hokkie te speel, moet jy nie net vinnig hardloop en die bal kan slaan nie. Jy moet ook kan dink, vinnig besluite neem en jou emosies onder beheer hou – selfs as dinge moeilik raak. Dis nie net jou lyf wat werk nie – jou kop moet elke oomblik reg wees. Jy moet weet waar jy moet wees, wat jy moet doen en jy moet voluit gaan, elke keer. Daar is nie plek vir luiheid of verskonings nie.

Op die veld kan dinge binne sekondes verander. Jy is een oomblik aan die aanval en die volgende oomblik moet jy verdedig. Jy moet flink en wakker wees. Daar is nie tyd om te staan en dink of te wonder nie. Jou reaksie moet snel en presies wees. Dis amper soos skaak – maar op die vinnigste manier moontlik. Jy moet nie net jou eie werk doen nie, maar ook verstaan wat om jou gebeur en hoe jy die span kan help.

Hokkie gaan nie net oor tegniek of wen nie. Dit bou aan wie jy is. Dit leer jou om te probeer, selfs as jy moeg is. Jy leer om te verloor sonder om te kla en om te wen sonder om ander af te kraak. Jy leer respek – vir jou afrigter, jou spanmaats, die teenstanders en vir die spel self.

Sommige mense dink hokkie is net nog ’n skoolsport – iets wat jy net ná skool gaan speel om besig te bly. Maar hokkie is meer as dit. Dis ’n plek waar jy selfvertroue bou, waar jy leer hoe om saam met ander te werk en waar jy leer dat harde werk en volharding werklik beloon word.

So as jy dink hokkie is net ’n speletjie – dink weer.
Hokkie is nie speletjies nie.
Dis voorbereiding vir die lewe. 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.