Gimnastiek is ‘n prettige en aktiewe sport, maar dit kan ook gevaarlik wees as mens nie versigtig is nie. Een van die algemeenste beserings is om ‘n spier te skeur of te trek. Dit gebeur wanneer die spiere te vinnig of te hard gebruik word sonder dat hulle reg voorberei is.
Die eerste en belangrikste manier om nie ‘n spier te skeur nie is om altyd voor die oefening begin op te warm. ‘n Goeie opwarming laat die bloed vinniger vloei en maak die spiere warm en buigsaam. ‘n Kind kan byvoorbeeld liggies op een plek draf, arms swaai, bene strek en sirkelbewegings met hul enkels en polse doen.
Tweedens moet daar ook gestrek word. Voor en na oefening moet iemand hul spiere rek. Dit help dat die spiere nie te styf word nie en dit voorkom dat die spier skielik te ver rek en skeur. Strek moet stadig en beheers wees – nooit vinnig en rukkerig nie.
Laastens is dit belangrik om nie te vinnig te hard te probeer nie. Bou krag en vaardighede stadig op. As die beweging nog moeilik is, is dit beter om dit eers saam met ‘n afrigter te doen.
As hierdie stappe gevolg word, is daar ‘n kleiner kans dat iemand hul spier sal skeur. Dan kan hulle veilig en vol selfvertroue met Gimnastiek aanhou.