Om jou doel in die lewe te vind is makliker as wat jy dink, maar dit kom nie vanself nie. Dr. Jordan Peterson reken dit vat ‘n belangrike vraag wat jy vir jouself moet afvra. Wat is dit wat jou vir die berge wil laat hol as jy daaraan dink en wat is dit wat jou opgewonde maak?
Nadat jy dit bepaal het, moet jy jouself afvra: “Wat is die een ding wat ek vandag, die week of die maand kan doen om nader aan dít wat my opgewonde maak te beweeg?” Wanneer jy dan op die reis van ontdekking is, moet jy ook besef dat dinge nie altyd sal gaan soos jy beplan nie; daarom moet jy ook aanpasbaar wees, maar nog steeds streef na dit waarop jy gefokus is. Voor jy jou oë uitvee, is jy op ʼn wonderlike ontdekkingsreis en hoe nader jy aan jou mikpunt kom, hoe meer wind is daar in jou seile.
Ek sal dit graag wil vergelyk met iets wat vir my bekend is – netbal. Ek is vreeslik opgewonde vir die netbalseisoen wat voorlê en ek dink baie maats is ook opgewonde oor die rugbyseisoen en al die toere waarna almal uitsien. My mikpunt is om die beste doel in die liga te wees en ʼn gemiddeld van 90%+ doele per wedstryd te haal. Behalwe dit, moet ek ook werk om my swakpunte te verbeter. Daarom moet ek toegewyd oefen, al beteken dit ek moet my persoonlike tyd en naweke opoffer en oefen wanneer ander rondlê en TikTok kyk. Gelukkig is dit maklik om te doen, want daar brand ʼn vuur in my wat groter is as die versoeking om net passief te sit en hoop vir die beste.
Ek besef ook dat God vir my die talent gegee het vir ʼn doel; om Sy naam te verheerlik. Daarom speel ek met integriteit en toewyding. Ek daag op vir oefening, werk hard, respekteer my afrigter, skeidsregters en spanmaats, want God verwag dit van my. Op die baan en van die baan af besef ek dat ek ʼn ambassadeur vir God en vir my skool moet wees. Wanneer ek my doelwit uitleef, is dit nie meer net oor myself nie, maar oor die drome wat God vir my het en dít maak my opgewonde. Met God aan my kant, loop ek ʼn bende storm. Ek kan ook sê, met God aan my kant, is my doel duidelik en die pad daarnatoe nie onmoontlik nie.
Kom ons raak prakties!
Hier is ʼn paar vrae en wenke wat jou kan help om jou doel te vind:
Wat maak jou opgewonde?
Waarin stel jy belang?
Wat is jou sterkpunte en swakpunte?
Dink hoe dit die wêreld rondom jou gaan beïnvloed.
Visualiseer jou doel.
Wees spesifiek.
Maak dit haalbaar.
Sit ʼn tyd daarop.
Soek leiding en vra vir hulp.
Hou aan leer.
Maak aanpassings.
Geniet die ontdekkingsreis!