Geskryf deur: Lente Buitendag 3 min

Hoe om in 2025 jou kop bo water te hou

Juffrou Mulder is ‘n graad 2-onderwyseres hier by Laerskool Randhart en is betrokke by die Ranties-swemspan. Vandag het sy ons vertel hoe om ons koppe in 2025 bo water te hou.

Hierdie ervare swemjuffrou hou nog altyd van swem, want sy het by die see grootgeword. Sy het as kind aan baie swemgalas deelgeneem. Haar gunstelingswemitem is Vlinderslag en sy hou swembyeenkomste soos byvoorbeeld die Olimpiese Spele dop, waar die beste van die beste dit elke vier jaar in die water uitspat vir daardie goue medalje.

Die Ranties-swemspan se kompetisies vind in die eerste en vierde kwartale plaas. Daar is ongeveer agt byeenkomste in ‘n jaar waar die Ranties hulself teenoor ander skole se swemmers kan meet. Die beste manier wat die Ranties hulle koppe bo water kan hou, is deur die hele tyd fiks te bly en gedurende die “af”-seisoen ook te oefen. Swem is ‘n leefstyl.

Aangesien Laerskool Randhart nuut op swemgebied is, is die enigste mikpunt op hierdie stadium dat elke deelnemer hulle persoonlike tyd verbeter elke keer wat hulle deelneem. Die droom vir die Ranties-swemspan is dat hulle eendag die toppresteerder by die Super 12-kompetisie sal wees.

Juffrou Mulder deel hierdie interessante feit met ons: “Meer as die helfte van die Australiaanse Olimpiese swemspan kon swem voor hulle kon praat of loop. Dit is dus wyse raad om vroeg te begin swem.”

Met die ervaring van juffrou Mulder en die mikpunt vir die span om binne ‘n paar jaar op die boonste vlak van die podium te staan, het Laerskool Randhart ook die vermoë om die volgende Penny Heyns, Chad le Clos of Tatjana Smith (Schoenmaker) op te lewer.

Swem, Ranties, swem! 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.