Ek het vandag die voorreg om met die rugbylegende, Japie Mulder, te gesels. Japie is bekend vir sy rol in die 1995 Springbok Wêreldbeker, onder andere vir sy laagvat op Jonah Lomu.
Rugby is in die Mulder-familie se gene. Japie vertel trots van sy kroos se prestasies. Sy drie seuns het almal vir die Leeus Laerskole gespeel. Die jongste twee is in Kwazulu-Natal op skool en een van hulle het in 2024 vir die Sharks o. 15-span gespeel. Japie se dogter is in 2024 vir die vroue o. 20-Bokkespan gekies en sy speel hierdie jaar sewes by Tukkies.
Die Springbokke het al 4 keer die wêreldbeker gelig en wat dit so goed maak, is dat dit in verskillende eras van rugby was. Japie vertel dat in hulle dae, as amateurs, daar net 2 afrigters was: een vir die voorspelers en een vir die agterlyn. Rugby is nou in die professionele era, waar daar spesialis-afrigters vir elke posisie is en daar word baie op die kondisionering van die spelers gefokus. Hulle is fisies baie groter omdat hulle baie gimnasiumwerk doen, maar Japie sê hulle was baie meer hardloopfiks gewees as hedendaagse spelers.
Daar is een ding wat die Wêreldbekers van 1995, 2007, 2019 en 2023 in gemeen het, selfs met toekomstige Wêreldbekers sal hê, en dit is dat daar drome wakker gemaak word in jong mense, maak nie saak waar hulle hulleself in die samelewing bevind nie.
Nog iets wat van 1995 tot nou toe nie verander het nie, is die feit dat wanneer jy vir jou land se eerste span wil speel, jy dissipline moet hê en dat dit harde werk verg.
Japie bou selfoontorings vir ‘n lewe en ek dink dit is om seker te maak dat hy geen van sy kinders se wedstryde sal mis nie. Daar sal ‘n toring naby wees om die wedstryd op sy selfoon mee te maak.