Dis heerlike lente, die winter is verby, weergalm die vrolike volksliedjie in my ore en dryf my skoon na trane. Inderdaad, die winter is verby en ons kan uitsien na die vrolike geluide van voëltjies se getjirp met dagbreek, warmer dae wat voorlê en die inrol van donderweerswolke in die laatmiddag.
Lente is een van die mooiste seisoene en is gevul met hoop en inspirasie. Kom ek delf ‘n bietjie dieper in die woord lente, want vir my kan elke letter ‘n boodskap van inspirasie wees.
Die letter “l” in lente staan vir: luister. Luister ‘n bietjie na die natuur en pak die tegnologie weg. Jy mag dalk net iets nuuts van jouself leer deur stil te raak.
“E” staan vir: energie. Eweskielik is almal se energievlakke hoog en sien hulle weer kans vir die uitdagings van die lewe.
“N” staan vir: Nuwe geleenthede om ‘n positiewe verskil te maak in die mense rondom jou se lewens.
Dit bring my by die letter “t”, vir transformasie. Kyk net hoe vinnig verander die vaal winterlandskap in ‘n kleurvolle prentjie. Net so kan ons weet dat moeilike en slegte tye in iets goed kan transformeer. Daar is altyd hoop en geleentheid om te groei.
Laastens dink ek aan: entoesiasme. Die winter is agter ons en so kom ons ook aan die einde van die derde kwartaal. Mag ons die vierde kwartaal instap met ‘n hart vol entoesiasme en ‘n huppel in ons stap.
Dis heerlike lente, die winter is verby... steek die braaivleisvuurtjie aan, vir jou en vir my!