Randhart se graad R’e het groot drome
Ons graad R-leerders by Laerskool Randhart is ons skool se toekoms en daarom is dit belangrik dat ons hulle op die regte pad lei. Hierdie jong leerders gaan eendag die skool verteenwoordig en vir almal wys dat Randhart die regte keuse is. Met groot drome en ambisies, het drie leerders, Sion, Dunay en Lumari, vir ons vertel wat hulle vir die toekoms beplan.
Sion, 'n vrolike seun, het gesê dat hy eendag 'n ryk man wil wees. Hy verstaan al dat dit harde werk gaan vereis en sien uit daarna om in graad een te begin, waar hy glo die harde werk begin. Hy kan nie wag vir meer huiswerk nie en is gretig om al sy doelwitte met toewyding te bereik.
Dunay, 'n slim en dapper dogtertjie, droom daarvan om 'n hartdokter soos die bekende dr. Christiaan Barnard te word. Sy wil Engels goed leer om later met geduld en begrip met haar pasiënte te kan kommunikeer. Sy weet dat hierdie beroep harde werk en baie studietyd vereis, maar sy is reg om lewens te red - ’n prestasie wat min mense kan behaal.
Dan is daar Lumari, wat reeds besluit het om ‘n juffrou te word, net soos haar ma, juffrou Hattingh. Sy is opgewonde om eendag vir kinders te kan leer en het selfs haar oë op wiskunde. Miskien sien ons haar eendag as 'n wiskunde-juffrou of dalk wen sy eendag die Wiskunde Olimpiade!
Hierdie drome is net die begin vir ons jong leerders en ons weet hulle gaan eendag die wêreld iets gee om oor te praat. Randhart se graad R’e inspireer ons elke dag en herinner ons aan die groot drome wat wag om verwesenlik te word.