Op 16 September 2024 het die Ranties se graad een redenaars ons ore behoorlik aan die brand gepraat. Vir baie van ons is openbare redevoering senutergend. Dit maak ons angstig wanneer ons ons stem die nodigste het; daarom vermy ons dit.
Laerskool Randhart streef daarna om ons redenaars van jongs af die geleentheid te gee om met selfvertroue ander mense te oorreed, te vermaak, in te lig en te motiveer. Redenaars leer ‘n kind om krities en konstruktief te dink. Hierdie vaardighede is baie waardevol wanneer ons leerders eendag belangrike besluite, wat hulle toekoms raak, moet neem.
Die beoordelaars en gehoor was vermaak met ‘n groot verskeidenheid onderwerpe, standpunte en argumente. Ons weet nou dat sprokieskarakters kinders nie slim maak nie en dat ouers se tyd van inmeng met speeltyd verby is. Hulle het ons ook oorreed dat jy nie in ‘n sprokiesboks hoef in te pas nie, dat dit nog belangrik vir kinders is om tekenprente te kyk en dat dit in orde is om ‘n klein rebel te wees wat buite die lyne inkleur en teken.
Baie geluk aan elke redenaar wat die moed gehad het en so braaf was om deel te neem en hulle sê te sê. Baie geluk aan Ariana van Staden wat as wenner aangewys is en Dian Zietsman wat as naaswenner gekies is. Laerskool Randhart kweek sprekers met ‘n sterk opinie. Ons hou julle dop!