Gia (kort vir Giana) Smith is ‘n trotse Rantie van slegs 9 jaar oud (binnekort 10) wat in ‘n baie kort tydperk gegroei het tot ons eie vurige klein tennisster. Ek het met haar ‘n onderhoud gevoer om meer uit te vind hoe sy reeds in haar tennisloopbaan gegroei het en waarheen sy op pad is.
• Is tennis jou gunstelingsport?
Ja, definitief. Ek is mal daaroor. Ek hou daarvan om te “compete”.
• Neem jy aan ander sportsoorte ook deel?
Ek neem deel aan atletiek (80m, 100m en verspring). Ek geniet dit ook baie om netbal te speel en hoop ons span kan hierdie jaar die Super 12 en liga wen.
• Hoe lank speel jy al tennis?
Ek speel al twee en ‘n half jaar tennis.
• Wou jy nog altyd ‘n tennisster wees?
Ek sal nie sê nog altyd nie, omdat ek nou eers vir net langer as twee jaar tennis speel. Maar ek weet nou dat ek vir
seker ‘n tennisster wil wees.
• Moet jy baie hard oefen?
Ja, jy moet baie hard oefen om beter in tennis te word. Jy kan ook nie net op die baan oefen nie; jy moet ook baie tyd aan kondisionering en strek spandeer. Huidiglik spandeer ek ten minste sewe ure ‘n week aan tennisoefening en kondisionering. Dit sluit uit enige oefeninge wat ek by skoolsport doen. Ek kry privaatafrigting by Legacy Tennis Akademie in Alberton en groepsafrigting by Real Athletes in Bedfordview.
• Wat is die moeilikste ding van tennis?
Die moeilikste ding van tennis is om “mentally tough” te wees. Terwyl jy in ‘n wedstryd is, mag niemand met jou praat of jou help nie.
• Aan watter toernooie neem jy deel en wat is die hoogste vlak wat jy al deelgeneem het?
Ek neem tans deel aan TSA (Tennis SA)-toernooie. Ek speel in die o. 12-ouderdomsgroep. Ek is die jongste speler wat toegelaat word om in hierdie ouderdomsgroep deel te neem. My noemnaam daar is Baby G. Ek was in 2021 genooi om in die Gauteng o. 10 Mini Masters te speel en in 2022 was ek weer genooi na die Mini Masters toe, maar in die o. 12-ouderdomsgroep. Ek is tans nommer 1 in die land (o. 10), en nommer 18 in die land (o. 12).
• Wat lê als vanjaar vir jou voor?
Ek hoop om hierdie jaar in Juniemaand ons land se naam hoog te kan hou by die Smrikva Bowl in Kroasië. Dis ‘n o. 10-toernooi vir slegs 24 dogters en 24 seuns regoor die wêreld. Ons eie Lloyd Harris en Zoë Kruger het ook destyds in hierdie toernooi gespeel, asook die huidige wêreldnommer 2: Carloz Alcaraz. Ons wag tans om te hoor of ek dit gemaak het uit 70+ ander lande se nommer 1-gerangskikte spelers.
Ek kwalifiseer ook om hierdie jaar in April deel te neem aan die TSA Nasionale-toernooi in Bloemfontein. Ek gaan ook aan al die Super 8-toernooie deelneem met die doel om hopelik te kan kwalifiseer vir die Growthpoint Masters einde van die jaar.
• Wat is jou droom in tennis?
Ek wil graag eendag kan deelneem aan al die “Grand Slams”. Wanneer ek ouer word en nie meer self kan speel nie, sal ek graag my eie tennisskool wil hê waar ek ook ander tennisspelers kan help om hulle drome te volg.
• Wie is jou grootste ondersteuners?
My grootste ondersteuners is beslis my familie, my afrigters en al my tennismaats.
Die gesegde dat dinamiet in klein pakkies kom, is baie waar. As Gia reeds in haar kort tennisloopbaan en op haar jong ouderdom soveel met tennis kon vermag, lê daar weliswaar vir haar ‘n blink toekoms voor. Ons wens Gia alle voorspoed toe met haar tennisloopbaan en ons weet sy sal die Rantie-naam hoog hou.