Geskryf deur: Ané Potgieter 2 min

Kroasië wink vir Gia!

Terwyl ons rustig by die huis sit, is Gia Smith (gr. 4) hard besig om tennis te oefen op Potchefstroom se kleibane. Al haar harde werk is nie verniet nie… Sy is uitgenooi na die Smrikva Bowl in Kroasië!
Die toernooi duur een week van 17 tot 24 Junie. Hierdie toernooi is die beste o. 10-toernooi in die wêreld en Gia is die enigste Suid-Afrikaner wat hierdie jaar deelneem.

Om gekies te word, moet jy deur twee ambassadeurs genomineer word. Video’s, ranglyste en uitslae moes ook gestuur word om te kwalifiseer. Jy moet ook no. 1 in jou land in jou ouderdom wees.

24 seuns en 24 dogters is hierdie jaar deur ‘n ervare paneel gekies. As jy aan hierdie toernooi deelneem, word jy deel van die “Seeds of the legends”, net soos huidige no. 1 Carlos Alcaraz.

Die wenner van die toernooi stap weg met ‘n paar ongelooflike pryse!
• Afrigting by die Mourtolougo Akademie.
• ‘n Internasionale Wilson kontrak.
• Wild card inskrywings in 2 groot toernooie in Spanje en Italië in 2024.
• ‘n Fiets en nog ander dinge.

Gia is baie opgewonde en kan nie wag om in ‘n ander land tennis te gaan speel nie. Sy wil ook graag maats met kinders van ander lande maak. Sy vertrek reeds Dinsdag 13 Junie Kroasië toe.

Die Ranties wens Gia alle sterkte toe en hoop net vir die beste. ONS WEET JY KAN DIT DOEN! 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.