Die tyd het aangebreek!
Op 31 Augustus gaan ’n paar manne (en definitief ook ’n paar dames) by Reading Buiteklub mekaar die stryd aansê. Hulle gaan kyk wie kan daardie klein wit balletjie met die minste aantal houe in daardie klein gaatjie op daardie groen setperk, in “propel”, met ’n lang stok.
Ja, dit klink skoon absurd! Ek dink dis pure lawwigheid. Netbal of rugby is mos baie beter!
Maar jong, die manne (en dames) kan nogal ernstig raak so op die gholfbaan. Vir enige “keen’’ gholfer om die perfekte dryf of sethou te slaan, is die lekkerste ding nog naas pienk melkskommel.
Het julle geweet?
Gholf het offisieel in 1744 ’n sport geword toe die “Gentlemen Golfers of Leith’’ die eerste klub gestig het. Die heel eerste 18 gat-gholfbaan het in 1764 by St. Andrews, Skotland, die lig gesien.
Elke gholfspeler weet ook seker wat ’n voëltjie, “bogey”, “double bogey”, arend, albatros en kondor is. Maar ek wonder wie ken die volgende vreemde, maar tog interessante gholf “slang’’?
Afskuwelike sneeuman: Dit is ’n telling van 9 op ’n gat.
Bo Derek: ’n Telling van 10 op ’n gat.
Vliegtuigdraer: ’n Lang, plat reghoekige grondhou; een wat gewoonlik ’n paar voet bokant die vlak van die omliggende grasperk verhef word.
Kool: Die ruveld.
Amelia Earheart: ’n Skoot wat goed lyk, maar dan kan jy die bal nie vind nie.
Kaptein Kirk: Jou skoot het gegaan waar geen bal voorheen gegaan het nie.
Manne en dames, ek hoop julle kennis aangaande die gholfterme is nou opgeskerp. Het julle al julle stokke uitgehaal en afgestof, julle balletjies gemerk, skoene gepolitoer en julle kledingstukke uitgekies vir hierdie fenomenale dag?
Ons wens vir elkeen ’n lekker potjie gholf toe en mag die beste man of dame wen!
Vir die wat nog twyfel in hulle gholfvermoë… ek los julle met 10 maklike “tips’’ vir beter gholf soos op premiumeurope.com verkry.
1. Jou postuur moet reg wees, voordat jy die bal slaan.
2. Die posisie van die bal en jou staan moet reg wees. Die bal kan nie té voor of té agter wees nie.
3. Hou jou kop af.
4. Draai daardie heupe, nie net jou arms nie.
5. Bemeester die kuns van slaan (“pitching”).
6. Ontwikkel ’n roetine vir jou sethoue.
7. Wees gereed vir die ergste: bemeester jou sandhoue.
8. Hou tred met jou swakhede.
9. Moenie die deurvolg van jou hou onderskat nie.
10. Dink aan ’n stel treinspore. Draai jou lyf na waar jy die bal wil slaan.
Mag julle innerlike Gary Player en Ernie Els na vore kom, maar die belangrikste: Geniet net elke oomblik!