Ek het onlangs die voorreg gehad om met mnr. De Ru te gesels oor sy passie vir atletiek en die 2025 atletiekseisoen wat vir die Ranties-atlete voorlê.
Mnr. De Ru, waar het Meneer se atletiekloopbaan begin?
My atletiekloopbaan het begin toe ek in graad 1 in Laerskool Theo Wassenaar was. Ek was bevoorreg om tot op die ouderdom van 28 te kon deelneem.
Ek het ‘n voëltjie hoor fluit dat Meneer besig is om ‘n nuwe kursus te studeer. Vertel ons ‘n bietjie meer.
Ek is tans besig met my Meestersgraad in Olimpiese Studies deur die Universiteit van Keulen in Duitsland.
Is Meneer opgewonde oor die 2025 atletiekseisoen?
Baie opgewonde! Ons het in 2024 ‘n wonderlike Super 12-byeenkoms gehad waar ons atlete baie goed gedoen het en ek glo dit gaan in 2025 oorspoel.
Is ons atlete goed voorbereid vir die seisoen?
Randhart se atlete werk baie hard en is baie gedissiplineerd. Hulle gaan almal baie goed doen die jaar.
Watter raad het Meneer vir elke Rantie-atleet?
Geniet dit! Dis die belangrikste. En wanneer julle op die baan en veld stap – gee jou alles vir jou skool.
Dan die groot vraag op almal se lippe… Gaan die Ranties hierdie jaar die Interlaer wen?
Vir seker – ons het die atlete en die afrigters om die Interlaer te wen.
Ons bedank mnr. De Ru vir al sy harde werk om seker te maak die Ranties is goed voorbereid vir die 2025 atletiekseisoen en wens hom alle sterkte toe met sy Meestersgraadstudies. Hou bene hou... of in Meneer se geval: Hou “brein” hou!