Robbie Wessels sê: “Daar’s ’n lelike ding wat kopwys in Parys... Iets heeltemal anders as ’n bike race of ’n kopluis...”
Wel, oom Robbie, die Leeuloop ís rof, maar daar is ’n veel leliker ding wat so twee keer ’n jaar by Laerskool Randhart kop uitsteek. Ons noem dit eksamenkoors en Novembermaand is dit weer sulke tyd. Of jy nou ’n Pliggie, ’n Briljantjie of ’n Luilettie is, hierdie koors sal jou laat brul!
Ek gaan my top 5 eksamenwenke nou “stap vir stap verduidelik”:
1. Slaap met jou handboek onder jou kopkussing. Wetenskaplikes beweer dat feite só maklik oorgedra word van die boek na jou brein.
2. Lê buite onder ’n boom totdat ’n voël op jou kop mis. Dit is ’n teken van goeie geluk en sal beslis jou kanse om die eksamen te slaag verhoog.
3. Deur gegeurde kougom te kou wanneer jy leer en dieselfde kougom te kou voor 'n vraestel, kan jou punte met ongeveer 24% styg, omdat jou brein inligting baie meer effektief sal herroep.
4. Kettingkyk ’n komediereeks op TV die dag voor die vraestel. Lag verlaag bloeddruk en spanning.
5. Luister musiek! Musiek aktiveer beide die linker-en regterbrein wat die leerproses versnel en jou geheue verbeter.
Hier volg ’n paar vrae en antwoorde uit my eksamenvraestelle om volgende jaar se graad 7’s ’n hupstoot te gee:
1. Wat is ’n sinoniem?
Iets wat jy gebruik as jy nie weet hoe om ’n moeilike woord te spel nie.
2. Tydens watter geveg het Piet Retief gesterf?
Sy laaste een.
3. Wat is die verlede tyd van eet?
Honger
4. Noem 5 dinge wat melk bevat.
Kaas, botter en 3 koeie.
5. Wat is die meervoud van kabeljou?
Kabeljulle
Eksamenkoors is ’n liederlike ding. Dit verg leeuemoed, hope kougom en ’n goeie stel oorfone om dié koors te breek.
Ek stem saam met oom Robbie... Gee my eerder “tennisballe, krieketballe en snoekerballe”, want hierdie leeu is moeg gebrul en het ’n vakansie nodig!