Geskryf deur: Marichke Pucjlowski 2 min

Eindeksamen – Dit maak deel uit van die boustene vir jou toekoms

Die afbakening is alreeds uitgedeel en elke onderwyser by Randhart (en definitief jou ouers ook) hoop jy is al hard besig om te leer. Eksamen is ‘n goeie ding waarna jy moet uitsien, want dit gee jou ‘n geleentheid om dit weer te lê wat jy oor die afgelope jaar of kwartaal geleer het.

Iemand het eendag my skoolreis en al die werk, take en eksamens so mooi verduidelik. Daardie persoon het gesê jy moet aan elke toets, projek, taak en eksamen dink as die boustene van 'n manjifieke huis wat jy mettertyd oor die jare bou.

As jy een taak gaan vergeet, nie jou beste gaan lewer nie of dalk hier en daar tydens ‘n eksamen nie alles gaan insit nie, is dit asof jou huis gapings ontwikkel.

So ‘n huis se fondasie en struktuur is swak en dit kos baie tyd en geld om dit op ‘n latere geleentheid te probeer herstel.
In jou toekoms gaan jy dan heel moontlik ook noodsaaklike kennis en vaardighede ontbreek wanneer daar te veel gate in die mure van daardie huis is.

So kom ons sit skouer aan die wiel en spring ywerig in om hard te leer en ons beste te gee, sodat elke bousteen wat ons by ons “skoolhuis” voeg daar sal wees om ons huis stewig en manjifiek te maak. So ’n huis bring kennis, wysheid, pligsgetrouheid, dissipline en soveel meer.

In hierdie tyd waar julle voorberei vir die eindeksamen, herinner ek julle aan ‘n belangrike skrif in die Bybel:

Spreuke 18:15
Die verstandige verstand verwerf kennis, en die oor van die wyse soek kennis.
Onthou - “Knowledge is power.”
Ons wens elke Rantie en student wat nou voorberei vir die eksamen sterkte toe met die voorbereiding. Mag 2023 se eindeksamen vir jou seepglad verloop en goeie resultate oplewer. Druk deur, volhard, bring jou kant en gee jou beste. Voor jy jou oë uitvee, sit jy op die strand, by die Kersboom of rus jy lekker en slaap so ‘n bietjie laat.

Lekker leer.

Marichke 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.