“Dit sneeu!” Dié woorde het Maandag 10 Julie oor die hele Alberton (en ander dele van ons land) geval, of dit nou ‘n uitbundige gejuig van kinders was en of dit ‘n WhatsApp-boodskap tussen volwassenes was, die nuus het vinnig versprei!
In minute het vaal, wintertuine in spierwit sprokieswêrelde ontplof!
Oud en jonk, selfs troeteldiere, alles en almal het die koue aangedurf, want dis nie aldag dat jy ‘n “snow angel” in Suid Afrika in jou agtertuin kan maak nie.
Ongelukkig was die pret van korte duur. Stadig het die vlokkies weer na so ‘n paar uur gesmelt, maar die herinneringe van ‘n selfgemaakte sneeuman bly vir ewig!
Gebeurtenisse soos hierdie: om hierdie wonderlike natuurverskynsel te aanskou, ‘n sneeubal in jou hande vas te hou of sommer net te kyk hoe ‘n sneeuvlokkie tot op die grond sweef, laat mens net weer besef, dis wonderlik om te kan leef!
Miskien het jy dit dalk gemis en voel jou hart koud en seer. Hou vas jou jas, want die weermanne sê: “Moontlik kom die sneeu hierdie naweek weer”.