Geskryf deur: Ava Allen 2 min

Die Jeuk van die Jeug

Vadersdag, Moedersdag... ek en my broer wou by Mamma en Pappa hoor hoekom daar nie ‘n “Kinderdag” is nie en dit is toe dat Pappa vir ons vertel dat daar selfs ‘n vakansiedag vir die kinders is… hulle noem dit Jeugdag.

Dit het natuurlik hierdie joernalis aangemoedig om meer ondersoek te gaan instel oor hierdie dag en waar sy bestaan vandaan kom.

Jeugdag is op 16 Junie en was ingestel om die jeug te herinner aan 1976 en die tragiese gebeure van daardie dag. Jeugdag is 'n dag waarop Suid-Afrikaners die jeug vereer wat op 16 Junie 1976 deur die polisie in Soweto in ‘n konfliksituasie met mekaar in ‘n oproering omgekom het.

Die dag is belangrik, want dit vier die belangrikheid om die jeug regoor die land te hoor en te ondersteun.
Om jonk te wees, is lekker en ek het so ‘n paar Rantie-leerders gaan vra hoekom dit lekker is om die jeuk van die jeug te krap.

“Dit is lekker om jonk te wees, want ek kan met my sussies speel.” - Cara (Graad 1).

“Dit is lekker, want jy kan lekker buite speel.“ - Adam (Graad 2).

“ Jy geniet nog die lewe voordat jy moet gaan werk.” - Meschak (Graad 7).

Dit is lekker om jonk te wees. Ons Ranties weet dit en ons vier hierdie komende Jeugdag met die wete dat die verlede vir ons die kans gegee het om gehoor te word en dat die oumense se sê-ding : “Kinders moet gesien, maar nie gehoor word”, nie reg is nie.

Die kind se stem is belangrik en moet na geluister word wanneer iets verkeerd is. Dit is ook belangrik om ‘n kind te mag wees wat speel, lag en vry is om groot te word sodat ons later ‘n groot verskil in hierdie wêreld kan maak wanneer ons tyd vir speel verby is.

Geniet julle Jeugdag, Ranties en gebruik hierdie vakansiedag om uitbundig te speel, iets lekker te eet wat jou tong blou maak en watergeveg te hê met jou vriende. Wees laf, lag uit jou maag uit en sorg dat jy net kind is!  

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.