Geskryf deur: Marichke Pucjlowski 3 min

Die groot vraag...

Sedert die begin van hierdie jaar lyk dit vir my of almal nie kan ophou praat oor “DIE GROOT VRAAG” nie. En nee, dis nie “Gaan ons slushy koop pouse?” nie.

Die GROOT VRAAG is...

Watter hoërskool gaan jy kies?

Hierdie onderwerp het allerhande praatjies op die speelgrond, soos klagtes oor te veel huiswerk en wanneer is die volgende sokkie, verbygesteek en selfs die lekker toebroodjies lyk of dit soms vergete bly onder die debatvoering.

Al is ek en my vriende net in graad 6, is ons reeds by hierdie gesprekke (of eerder debatte) betrokke. Ek dink dis omdat baie van ons ouer broers of susters het wat hierdie besluit onlangs moes maak of tans in die proses is. As julle soos ons huisgesin is, sal dit sekerlik ook deel van die gesprek wees rondom die gesinstafel. Daai gesprek in ons huis kon so warm raak soos my ma se Indiërvriendin se skaapkerrie. Dit het natuurlik my lekker soetpampoen in bitter spinasie laat ontaard en wou ek myself heeltemal aan die nagereg oorgee!

Dit alles het my laat dink, hoekom is dit so 'n groot vraag of eerder probleem? Ons is te jonk vir sulke groot besluite. Dink julle nie ook so nie?

Ek dink ons moet onthou dat al mag jy nie dalk by jou eerste keuse van hoërskool opeindig weens verskeie redes nie, soos die skool is nie in die area wat jy bly nie, jou ouers kan dit nie bekostig nie, of selfs ander persoonlike redes wat ons soms opstandig laat voel, moet jy weet, dinge sal uitwerk soos dit moet. Ek hoor gedurig hoe my predikant oupa vir almal sê: “Dinge sal ten goede meewerk vir die wat die Here liefhet.”

So, hier is my boodskap aan elke graad 7-leerder en ook aan toekomstige Ranties wat hierdie besluit saam met hulle ouers gaan moet neem:

‘n Hoërskool bepaal nie jou toekoms nie. Dis jy wat jou toekoms bepaal deur die talente en gawes te gebruik wat die Here vir jou gegee het.

Maak nie saak waar jy eindig nie, streef daarna om 'n verskil te maak, gryp die beste uit elke situasie en geleentheid aan. Verstaan dat alles ‘n doel het en as jy God vertrou en vra om jou te lei, sal Hy jou na die plek lei waar jy jou bestemming en potensiaal kan vervul.

Mag God jou pad baan; mag Hy jou baken wees en jou help om die beste weergawe van jouself te wees. Gryp elke kans aan, ongeag die hoërskool wat jy gaan bywoon.

Omhels en geniet hierdie nuwe hoofstuk. Volgens my broer vlieg die dae in die hoërskool heeltemal te vinnig verby.

Soos Oupa sal sê: “Wees net lief vir die Here en dinge sal vir jou ten goede meewerk”, maak nie saak waar jy jou hoërskoolloopbaan begin of eindig nie.

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.