Geskryf deur: Leora Höll 3 min

Dankbaarheid

Mandeladag, wat op oudpresident Nelson Mandela se verjaarsdag op 18 Julie gevier word, is ‘n internasionale dag wat mense aanmoedig om 67 minute af te staan aan liefdadigheid. In Nelson Mandela se eie woorde: “We would be honoured if such a day can serve to bring people together around the world to fight poverty and promote peace, reconciliation and cultural diversity.”

Dit het my dadelik laat dink: “Wat kan EK doen met 67 minute?”

Elke dag wanneer ek saam met my ma in Alberton rondry, sien ek mense wat op straat bly en wat vir kos of geld bedel op straathoeke en by verkeersligte. Ek begin al spesifieke mense herken by sekere plekke en voel asof ek hulle al kén. Hierdie bedelaars is van verskeie rasse en ouderdomme. Sommiges is selfs nog baie jonk.

Dit het my laat besluit om iets vir húlle te doen met my 67 minute van liefdadigheid.

Ek het vir my ma gevra en ons het deur ons kaste gegaan vir dinge wat ons nie meer gebruik nie, soos ou koppies en bekers, komberse, klere en handdoeke wat nie meer ‘n maatjie gehad het nie. Daar is verbasend baie mense in Alberton wat op straat bedel wat nie hierdie winter warm komberse of klere het nie. Ons het alles vir die behoeftiges, wat ons gereeld in ons area sien, geskenk.

Dit is lekker om aan ander te gee en om die glimlagte op hul gesigte te sien as hulle die komberse en klere ontvang!

Ons weet nie wat in hulle lewens gebeur het en watter besluite hulle tot op só ‘n lewenspad gelei het nie. Daar is baie hartseer in dié wêreld.

En dít het my laat dink aan hoe DANKBAAR ek vir die dinge en mense in my eie lewe is.

Ek is dankbaar vir my familie, my ouers, my gootouers en my boetie. Hulle almal is lief vir my. Hulle sorg vir my en help my om die regte lewensbesluite te neem.

Ek het ‘n veilige heenkome, ‘n warm bed en klere en oorvloed van kos in ons huis.

Ek is dankbaar vir my gesondheid en die toegang tot mediese behandeling wanneer ek dit nodig het.

Ek het vriende wat vir my omgee.

Ek is dankbaar vir my skool en onderwysers en dankbaar vir die geleentheid om te kan leer en om elke dag skool toe te kan gaan.

Ek is dankbaar dat ek my godsdiens kan uitleef en elke aand kan bid.

Ek dink partykeer spandeer ons té veel tyd op al die negatiewe dinge om ons en konsentreer op alles wat ons nie het nie, dat ons heeltemal vergeet hoe geseënd ons eintlik is:

WEES ELKE DAG DANKBAAR!

67 minute per jaar is nie genoeg vir liefdadigheid nie. In dankbaarheid, kyk om jou rond, steek jou hand uit en help méér gereeld.

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.